Andre van Dyk is koning in Sun City

Die Bolander Andre van Dyk het die afgelope naweek getoon hoekom hy as een van die beste senior spelers in Suid-Afrika beskou word toe hy die Senior Players Tournament by die Gary Player Buiteklub gewen het. Van Dyk se wentelling was 144.
Dit is die tweede keer dat Van Dyk hierdie prestige senior-toernooi kon wen – hy het dit ook reggekry in 2017.
Van Dyk (Langebaan) het rondes van 72 en 72 gespeel in hierdie toernooi. Hy het Schalk Naude wat tweede was met 4 houe geklop.
Die top- 50 senior amateurs word elke jaar na hierdie toernooi genooi.
Dit was baie warm tydens die toernooi (tussen 33 en 36 grade) en die moeilikheidsgraad van die baan asook die hitte het die spelers behoorlik uitgeput.
“Ons was omtrent moeg na elke ronde. Die baan maak ‘n man klaar want jy moet al jou houe akkuraat speel. Jy kan nie ‘n oomblik verslap nie. Ook was die penplasings op baie moeilike plekke gewees.“
Van Dyk het sterk geëindig in die toernooi deurdat hy oor die laaste 9 putjies drie voëltjies behaal het – op die 10de, 14de en die moeilike 17de putjie.
“Op beide die 14de sowel as die 17de putjies het ek in ge-chip vir my voëltjies – so ek het ‘n bietjie geluk aan my kant gehad,“ het Andre op sy beskeie manier vertel.
Die Bolander Peter van Coller (Stellenbosch) was in die 32ste plek op 164. Van Coller het hierdie toernooi in 2013 gewen.
• Van Dyk het ook onlangs vir die SA Senior span in Indië gespeel in die Friendship Cup-toernooi en was onoorwonne in al sy wedstryde.
“Ek het die toernooi baie geniet en die organiseerders het ons op hul hande gedra en baie moeite vir ons gedoen. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.“

Category: