Boland bly op wenpad by SA Platteland-toernooi

Die Boland het voortgebou op die momentum van vroeër wedstryde deurdat hulle vandag vir Suid-Kaap oortuigend met 8-4 geklop het tydens die SA Platteland-toernooi op Plettenbergbaai.
Soos in die afgelope wedstryde het die Bolanders stewig vertoon in die beurtspelle en was met 2.5 – 1.5 voor.
Clement de Bruin en Daniel Cronje het hul wedstryd halveer, terwyl Anton Pieters en WP Botha met 3/2 gewen het. Die Worcester-paar Cedric Rooi en Ryk van Schoor was vuurwarm en het met 4/3 gewen.
In die enkels het De Bruin vir die 3de agtereenvolgende dag die Bolanders op die wenpad gekry toe hy op nommer 8 in die enkels met 5/4 gewen het.
Anton Pieters het op nommer 7 sy wedstryd met 1 voor gewen.
Op nommer 6 het WP Botha sy uitstekende spel van die toernooi voortgesit toe hy met 2/1 gewen het. Botha het altesame 5 voëltjies in sy wedstryd behaal.
Jaco Pieters het baie sterk geëindig om sy wedstryd met 1 voor te wen – hy het op die laaste putjie seker gemaak van ‘n sege toe hy ‘n voëltjie behaal het. Pieters was 1 onder baansyfer toe hy hande geskud het met sy teenstander.
Ryk van Schoor het sy wedstryd halveer, maar dit het uitstekende gholf gevat om dit te kon regkry. Van Schoor het 4 voëltjies behaal en was 2 onder baansyfer vir die dag.
Cronje het op nommer 1 met 5/3 gewen en het altesame 4 voëltjies behaal en was 2 onder baansyfer vir die dag.
Die Bolanders het môre ‘n rusdag en speel Vrydag teen Mpumalanga.

Category: