Boland Juniors is kampioene by SAIPT

Die Boland Junior span het vandag die B-afdeling by die SAIPT Junior Toernooi op Benoni op oortuigende wyse gewen.
Die Bolanders het op die laaste dag van die IPT vir Grens met 8.5-3.5 geklop en volgende jaar sal die Boland in afdeling A speel.
In die beurtspelle het die Bolanders baie vinnig uit die blokke gekom en was met 3.5 - 0.5 voor toe die beurtspelle afgehandel is.
Jurian Mostert en Alric Rooi het met 1 voor gewen; Keanan Keffers en Aidon Willemse was met 7/5 baas, Daniel Cronje en Angelo Keffers was met 2/1 aan die wenkant, terwyl Hezron Frieslaar en Carlos Losper hul wedstryd halveer het.
In die enkels het Aidon Willemse weer eens puik vertoon en met 1 op gewen, terwyl Alric Rooi met 3/1 koning gekraai het. Hezron Frieslaar was weer eens die bestendigheid self en het met 4/3 gewen, terwyl Carlos Losper baas was met 3/2.
Daniel Cronje het korte mette gemaak met sy teenstander en het sy wedstryd met 6/5 beklink.
Boland het 10 ligapunte verdien en altesame 47.5 individuele wedstryde gewen.
Oostelike Provinsie was tweede met 9 ligapunte en 43 individuele punte.

Category: