Boland juniors oefen saam met David Frost

Die Bolandse junior IPT-span het gister op Stellenbosch baie goeie voorbereidingswerk gedoen vir die SA Junior IPT-toernooi wat binnekort plaasvind.
Die jong Bolanders het die geleentheid gekry om by die Stellenbosch-gholfklub se oefenbof (wat bestuur word deur die PGA-afrigter, Erich Kliem) hul swaaipoed asook ander statistieke te laat toets met die FlightScope-tegnologie.
Daarna het die span tesame met hul spanbestuurder, Karl Ochse, die voorreg gehad om ‚n oefenronde saam een van Suid-Afrika se beste gholfspelers van alle tye, David Frost, te speel.
Hy het eers saam met hulle beurtspel gespeel en toe die hele span aangevat in enkels (Frost was onoorwonne in al die enkels).
Frost het gesê hy was baie beindruk met die talent en vermoëns van die jong Bolanders. “In der waarheid het hierdie jong spelers my meer beindruk as baie juniors van die VSA wat ek al onder oë gehad het.“
Frost het egter ook ‚n paar foute opgemerk onder die jong Bolanders. “Soms het die outjies eenvoudig te veel tyd geneem wanneer hulle belangrike houe moes speel. Deur jou vooraf-roetine te verander en te lank te neem voordat jy speel – plaas jy meer druk op jouself.“
Frost het as jong seun sy gholf geleer op die Stellenbosch-gholfbaan en die jong Boland-juniors is beslis geinspireer deur saam te kon speel met een van SA se beste gholfspelers van alle tye.
(Foto’s is van die juniorse se besondere dag gister.)

Category: