Boland juniors wys veggees en is nou baie goed geplaas om SAIPT-toernooi te wen

Die bestuurder van die Bolandse junior gholfspan, Karl Ochse, is vanaand ‘n baie trotse man, want die Boland-juniors het vandag tydens die SAIPT-toernooi groot karakter gewys deur Mpumalanga met 6.5 – 5.5 te klop.
“Die spelers het vandag in die enkels getoon dat hulle oor die „guts“ beskik om onder groot druk te kon presteer. Dit was vandag die verskil tussen wen en verloor. Die wil om te wen het geseëvier by die Boland-span, “ het Ochse gesê.
Nadat die Bolanders stadig uit die blokke gekom het in die beurtspelle het alles afgehang van die enkels.
Jurian Mostert het op nommer 8 vir Boland die broodnodige momentum gegee toe hy sy wedstryd met 1 op gewen het.
Aidon Willemse het sy goeie vorm in die enkels voortgesit toe hy sy teenstander met 7/6 oordonder het. Aidon het 3 voëltjies aangeteken en was gelyk aan baansyfer toe die wedstryd oor was.
Angelo Keffers het ook ‘n uitstekende sege behaal toe hy sy teenstander met 5/4 afgestof het en daarna het Carlos Losper met 3/2 geseëvier. Carlos het 4 voëltjies aangeteken en was 1 onder baansyfer toe hy en sy teenstander hande geskud het.
Boland se no 1-speler Daniel Cronje het sy uitstekende vorm voortgesit toe hy sy teenstander met 4/3 verslaan het. Cronje was die bestendigheid self en was 4 houe onder baansyfer toe hy die wedstryd in die sakkie gesit het.
Maar miskien die heel belangrikste uitslag van die dag was die halwe punt wat Hezron Frieslaar ingebring het. Hezron het gelyk aan baansyfer gespeel en 3 voëltjies behaal.
Vandag se sege plaas vir Boland in ‘n baie gunstige posisie om die toernooi te wen.
More is ‘n afdag vir die Bolanders en Vrydag pak hulle vir Grens.

Category: