Boland kook op dag 2 van SAIPT vir juniors

Die Bolandse se junior span het op dag 2 van die SAIPT toernooi op Benoni gekook en albei hul wedstryde oortuigend gewen.
Die Bolanders het vir Limpopo met 8-4 verslaan en skoonskip teen Noord-Kaap gemaak toe hulle met 12-0 geseëvier het.
Teen Limpopo het die Bolanders die grondslag vir hul sege gelê toe hulle stewig vertoon het in die beurtspelle en dit met 3-1 gewen het.
Jurian Mostert en Alric Rooi (6/5), Daniel Cronje en Angelo Keffers 5/3 asook Hezron Frieslaar en Carlos Losper 7/5 het almal oortuigende seges behaal.
In die enkels het Keanan Keffers puik gespeel en met 5/4 gewen, terwyl sy boeta Angelo ook aan die wenkant was met 2/1. Willemse het sy goeie spelpeil gehandhaaf en sy wedstryd met 3/2 gewen.
Frieslaar het ‘n tawwe wedstryd met 1 voor gewen, terwyl Rooi en Cronje (op nommer 1) hul wedstryde halveer het.
Die Bolanders het met hul goeie gholf vir Noord-Kaap oordonder en groot seges is behaal in die beurtspelle asook enkels.
Daniel Cronje en Angelo Keffers het byvoorbeeld hul beurtspel-wedstryd met 8-7 gewen en die Boland-paar was 2 onder baansyfer toe hulle hande geskud het met hul opponente. Ook Frieslaar en Losper was 2 onder baansyfer toe hulle die wedstryd in die sakkie gesit het.
Die spel van die Bolanders oor die algemeen was baie solied. Een van die manne wat ‘n baie goeie dag beleef het in die enkels was Keanan Keffers. Keanan het 5 voëltjies oor die eerste 9 putjies behaal.

Category: