Jong Gerard speel plek los in Skotse toernooi

‘n Gholfavontuur soos min wag op die 11-jarige Gerard Hartman van De Zalze-gholfklub.
Gerard gaan in Mei aanstaande jaar in Skotland aan die Europese US Kids-toernooi deelneem. Hartman het sy plek in hierdie toernooi verseker danksy ‘n puik vertoning wat hy gelewer het tydens ‘n SA Kids-toernooi wat gespeel is op die Huddle Park-baan in Johannesburg.
Die spelers wat in die eerste twee plekke in hierdie toernooi sou eindig, sou plekke oopspeel vir die Skotland toernooi.
In die eerste ronde was die weer baie stormagtig en ‘n sterk wind het gewoed. Gerard se pa, Michael, wat ook sy joggie was tydens die toernooi vertel: “In die moeilike toestande wat geheers het in die 1ste ronde het Gerard sy bes gedoen, maar het klaar gemaak met ‘n 89. In die 2de ronde het Gerard teruggeveg en van ver agter gekom om met ‘n telling van 80 tweede te eindig in die toernooi.“
Gerard het begin gholf speel as 8-jarige en het ’n jaar later begin om aan SA Kids-toernooie deel te neem.
Die afgelope jaar of wat oorheers hy die SA Kids-toernooie in sy ouderdomsgroep in die Wes-Kaap en het 6 toernooi-titels reeds agter die blad. Tydens die Junior Uitdaag Afrika-toernooi het hy ‘n baie goeie 3de plek behaal.
Gerard wil graag aanstaande jaar in meer junior Boland-toernooie deelneem en sy slag wys op provinsiale vlak.
Hy is ‘n graad 6-leerder aan Rhenish Laerskool op Stellenbosch en sy gunsteling-skoolsport is krieket.
Erich Kliem, PGA-afrigter van die Stellenbosch-klub, het vir Gerard al onder hande geneem. “Ek het hom ook laat balle slaan met die FlightScope-tegnologie en sy statistieke lyk baie goed vir iemand van sy ouderdom.“
“Verder is ek ook baie beindruk met Gerard se toewyding tot die spel. Hy oefen gereeld en ook met groot fokus op die oefenbof,” sê Kliem.

Category: