Klub van die Maand - Citrusdal

Gedurende 1960 het ‘n klompie Citrusdallers begin, om wat bekend was in daardie dae as die Koeikamp (elke inwoner was geregtig om twee koeie op daardie stuk grond aan te hou) gelyk te maak met die oog om ‘n gholfbaan te vestig.
Die grond is geleë tussen die dorp en die rivier en was baie ongelyk en daar was redelik baie water-kuile.
Die 15 lede wat daardie tyd betrokke was, het baie gesukkel om die 4-putjiebaan – wat maar redelik rof was, aan die gang te hou en die klub het tot niet gegaan teen die einde van die sestigerjare.
Gedurende 1975 het ‘n paar gewilliges weer met ‘n poging begin op dieselfde Koeikamp. Die baan is later uitgebrei tot 9 putjies - op ‘n baie beperkte stukkie grond. Altesame 10 lede was betrokke by hierdie projek en danksy hul iniasitief en harde werk het die gholfbaan tot stand gekom.
Gedurende die vroeë tagtigs was die bestuur bevoorreg om dieselfde Koeikamp (wat basies bestaan het uit twee gedeeltes grond geleë onder die 100 jaar vloedlyn) te kon koop en die grond word nou nog besit deur die klub.
Die klub bestaan tans uit 177 lede, wat insluit mans, dames en juniors. Nuwe lede is altyd welkom. Kontak vir Sakkie van der Westhuizen 083 3840903 sakkie@kempena.co.za

Die klub speel sedert die tagtigerjare in die Nelson-liga. (Die beker is deur ‘n mnr. Nelson - gholf-klublid van Malmesbury, geskenk). Om die beker word daar tans meegeding deur twaalf klubs in die Boland. (Citrusdal, De Hoek, Porterville, Ceres,Worcester, Wellington, Malmesbury, Moorreesburg, Langebaan, Vredenburg-Saldanha, Darling en Bergrivier).
Die klubs word ses aan elke kante verdeel en word jaarliks geroteer en die een kant speel op die ander kant se bane ‘betterball matchplay’ teen mekaar. Met ‘n groot finaal teen die einde op ‘n neutrale baan, wat deur al die ander klubs bygewoon word.

Die groot gholfdae op die klub se jaarprogram (2019) is die Citrusdal Ope – 19 Januarie, Land Bank 30 Maart, Citrus Invitational 31 Augustus, Seatrade Classic 12 Oktober en die 11de Kapteinstoernooi 26 Oktober.

CITRUSDAL OPE

Die klub is ook baie trots op sy ope-toernooi wat sedert 1986 aangebied word.
Die klub is ook baie trots daarop geblokte foto’s van al die ope-wenners in die klubhuis vertoon word.
Die eerste Citrusdal Ope is gewen deur Gavin Hunt, die voormalige sokkerspeler van Hellenic asook sokker-afrigter van Bidvest Wits.
Bekendes wat die Citrusdal Ope al gewen het sluit in: Jean Hugo in 1993, Bertus Smit (vier keer tussen 1992 en 1996) Gerlou Roux in 2001 asook Christiaan Basson (2003 en 2004).

CITRUS INVITATIONAL 31 AUGUSTUS 2019
Op hierdie dag nooi die klub almal wat betrokke is by die sitrus-industrie om te kom deelneem. “Dis ook ‘n goeie geleentheid om jou besigheid te adverteer en saam met almal te kuier – insluitende die boere, verskaffers en ander rolspelers in die sitrusbedryf,“ aldus Sakkie van der Westhuizen.
Diegene wat nog nie genooi is nie, kan Sakkie van der Westhuizen kontak by 083 3840903 sakkie@kempena.co.za

SEATRADE CLASSIC 12 OKTOBER 2019
“Dit is ons grootste toernooi van die jaar en almal wat wil kom speel is welkom. Baie goeie pryse, lekker kos en lekker kuier. Ons is bekend vir ons gasvryheid en lekker etes.“
Kontak Sakkie van der Westhuizen 083 3840903 sakkie@kempena.co.za

KAPTEINSTOERNOOI 26 OKTOBER 2019
“Dit is die 11de Kapteinstoernooi wat ons aanbied. By hierdie toernooi word al die BGU se klubkapteins genooi om saam met van hul bestuurslede en Boland se bestuur, te kom deel neem vir ‘n beker, lekker pryse en sommer net lekker saam kuier.“ Kontak Sakkie van der Westhuizen 0833840903 sakkie@kempena.co.za

“In die huidige tyd waar dit moeilik is vir veral kleiner nege putjie gholfbane om te bly voortbestaan, moet bestuurslede heeltyd probeer innoverend wees. Dit is waarom ons voltyds besig is om nuwe lede te werf, die baan te verhuur aan instansies vir gholfdae, die klubhuis te verhuur, gholfdae aan te bied, advertertensieborde verkoop, borge te bekom, Lotto-fondse te bekom en bestuurslede en lede wat self etes voorberei vir gholfdae ens. In die proses kan ons ook ons lidmaatskap bekostigbaar hou vir ons huidige lede. Tans is daar ook gesprekke aan die gang om koste van affiliasie en kaartfooie in toom te hou vir lede.“

“Ons het onlangs alle bloekombome op die baan afgemaak en ook ander bome wat setperke en skoonvelde se groei benadeel. Ons is tans besig om by putjie nommer 2 ‘n nuwe setperk te vestig om die baan nog meer interessant te maak.“

“Ons nooi almal wat nog nie ons baan gespeel het nie en ook die wat wil sien hoe die baan nou lyk, uit om by ons te kom kuier.“

“Ons verwelkom altyd besoekers wat by ons wil kom speel. Kontak vir Kobus Nel 022 9212544 of 063 1193631,” aldus Van der Westhuizen.

Category: