Klub van die Maand - Malmesbury

Malmesbury, die grootste dorp in die Swartland-streek is 65 km Noord van Kaapstad op die N7-snelweg. Die dorp is in 1703 gestig en is landwyd bekend as een van die belangrikste graan- en wynstreke.
Die Malmesbury-gholfklub het in 1960 geskuif na sy huidige standplaas.
Die Malmesbury-baan het ‘n heuwelagtige ligging met gevolglike golwende skoonvelde. Die eerste klompie putjies speel almal afdraende en dan eindig jy die nege met die laaste putjies wat weer opdraende is.
Die setperke se oppervlakte is fyn bent-gras en word allerweë beskou as van die heel bestes.
Die heuwelagtigheid van die baan maak dat die baan se dreinering puik is en die baan is 365 dae van die jaar speelbaar.
Die skoonveld is dig begroei met kikuyu-gras. ’n Paar jaar gelede het die klub ekstra fondse benodig en besluit om die helfte van die skoonvelde se gras (aan die regterkant) te verkoop. Die gras het pragtig herstel en binne maande was die skoonvelde weer in top-kondisie.
Daar is die afgelope jare baie planne gemaak om die baan uit te brei na ‘n 18 putjie-baan. Hierdie projek sal saamval met die ontwikkeling van die Mount Royal Golf and Country Estate. Die bykomende 9 putjies se uitleg en ontwerp is reeds gedoen en sal aansluit by die huidige 9 putjies, maar weens die stram finansiële klimaat in die eiendomsbedryf het hierdie projek nog nie van die grond gekom nie, maar die projek is nog steeds in die pyplyn.
Die klubhuis is ‘n aangename plek vir beide lede en besoekers. Spelers en hul metgeselle geniet veral om op die patio te sit en ‘n skemerkelkie te geniet – vanaf die patio is daar ‘n verruklike uitsig op Tafelberg.
Die Halfway House Restourant het verlede jaar sy deure oopgemaak en is baie gewild onder lede en besoekers. Die plaaslike restaurant-kenner Marius Foot is daar in beheer.
Baan-kenmerke:
Malmesbury se baan is bekend vir die lang syfer 4-putjies, maar die putjie wat by gholfspelers die meeste uitstaan is die 15de putjie. Hierdie syfer 3-putjie is 200 meter lank en hoewel dit afdraende speel, is dit altyd ‘n groot toets vir die spelers – veral as die suidooster-wind waai.
Malmesbury neem al die jare met groot oorgawe deel aan die onderskeie liga-kompetisies in die Boland-unie en die klub het deur die jare sukses behaal wat die Krugerliga; Brodie-liga asook Nelson-liga betref.
Tans is Malmesbury I in hul afdeling die voorloper in die Brodie-liga asook die Vroue-ligaspan.
Plaaslike skole gebruik die Malmesbury-baan vir hul skole-ligawedstryde teen geen ekstra koste. Junior gholfspelers kry ook by die Malmesbury-klub afrigting teen ‘n baie redelike fooi.
Deur die jare het baie Malmesbury-lede vir Boland-spanne verteenwoordig – vanaf die junior afdeling tot die Ope-afdeling.
Een van die sterre wat Malmesbury-klub opgelewer het, is DeWet Basson. Basson het sy gholf op Malmesbury geleer en die klubkampioenskappe vyf keer gewen tussen 1983 en 1988. Later het hy ‘n suksesvolle beroepspeler geword en in 1992 saam met Ernie Els deelgeneem aan die Wêreldbeker-toernooi in Madrid.

Die Malmesbury-baanrekord word gehou deur Cedric Rooi met ‘n telling van 64 – hy het dit behaal in die 2019 Malmesbury Ope.
Die klub bied jaarliks die baie gewilde Swartland Classic-toernooi aan. Talle gholfspelers vanoor die Boland en die WP neem aan hierdie gewilde toernooi deel en is die klub se belangrikste fondsinsamelingsprojek. Die toernooi vind gewoonlik einde November of vroeg in Desember plaas.
Talle gholfgroepe kom Sondae op die Malmesbury-baan speel, terwyl pensionarisse spesiale tariewe op Maandae en Dinsdae kry.
Volle lidmaatskap van die Malmesbury-klub kos tans R3 500 en danksy die baan se gewildheid het die klub talle lede vanaf Kaapstad en omgewing wat ook daar aangesluit het.
Tans het die klub sowat 700 lede.

Category: