Langebaan trotse wenners van Seniorliga

“Dit is sommer baie lekker vir ons Langebaan-manne om ‘n ligabeker te wen,” vertel Andre van Dyk.
Van Dyk was lid van die Langebaan-span wat die afgelope naweek die Bolandse seniorliga gewen het toe hulle vir Paarl in die eindstryd op Devonvale met 4-2 geklop het.
“Die afgelope jare het Langebaan redelik goed gevaar in die onderskeie liga-kompetisies, maar daar was net nie die diepte by ons klub om die liga te wen nie. So ons ouens het die verowering van die Senior Liga baie geniet.”
Andre Gerber het vir Langebaan ‘n goeie begin gegee toe hy vir Hennie Hamer geklop het, maar Riaan Olivier van die Paarl het dinge gelyk gemaak met ‘n sege oor JD Pretorius.
Jannie van Breda (Paarl) het vroeg klaargemaak in sy wedstryd teen Mark Springer en gevolglik moes die Paarl die oorblywende drie wedstryde wen om die trofee te buit.
“Ons span se held was die mediese dokter en hoof van die Staatshospitaal op Langebaan, Sylvian Morales-Perez. Perez (Kubaanse agtergrond en voorheen van Knysna) was in ‘n taai stryd teen George Bezuidenhout gewikkel maar het vasgebyt en met 1 op gewen.”
“Daarna het ekself en Jaco Visagie seges behaal oor onderskeidelik Franz Lobhauer en JL Swart om die beker vir ons span te beklink.”
Van Dyk het vir Lobhauer 3/2 gekop en Visagie vir Swart met 2 voor.
“Die Bolandse senior liga is ‘n tawwe liga en jy wen nie sommer maklik ‘n wedstryd nie. Ons was baie verheug na ons sege.”

Category: