Nuwe president van BGU bring kundigheid op verskeie vlakke

Die nuwe president van die Boland-gholfunie, George Bezuidenhout, se wye ervaring van korporatiewe en finansiële bestuur asook sy passie vir gholf is van die eienskappe wat hy na die komitee-tafel bring en wat vir die unie groot waarde sal bied.
Bezuidenhout (gebore in 1960) het op 'n plaas in Zimbabwe groot geword en op skool krieket gespeel, maar nooit gholf nie (sy pa was wel 'n enkelsyfer-gholfspeler tot in sy sewentiger-jare).
Na skool het hy aan die Universiteit van Stellenbosch B.Rek gestudeer en nie aan sport deelgeneem nie, want sy studies en loopbaan was die groot fokus in sy lewe.
As 'n gekwalifiseerde CA het Bezuidenhout die sakewêreld betree en was vir 17 jaar lank werksaam by die JSE genoteerde maatskappy Sea Harvest - die laaste sewe jaar daarvan was hy die maatskappy (wat oor bykans 2 400 werknemers beskik) se hoof-uitvoerende beampte.
Einde 2013 het hy besluit om vroeg af te tree en kon hy homself toespits op die groot passie in sy lewe - gholf speel asook die administrasie van gholf.
Bezuidenhout het eers op 30-jarige ouderdom begin gholf speel by die Leopard Park-gholfklub in Mmabatho.
Weens sy druk werkprogram kon hy vir verskeie jare nooit aan kompeterende gholf deelneem nie. Eers na sy aftrede het hy aan senior kompetisies begin deelneem - met groot sukses en vanaf 2014 het hy nog elke jaar die Bolandse senior span gehaal.
Bezuidenhout is ook die afgelope twintig jaar lank lid van die Paarl-gholfklub. Die Paarl-gholfklub word bestuur deur die klub se Raad van Direkteure en hy het reeds meer as 10 jaar al gedien op die klub se Raad van Direkteure - twee jaar daarvan was as kaptein van die Paarl-gholfklub.
Bezuidenhout sê daar is heelwat dinge wat die Boland-gholfunie goed doen - soos die bedryf van liga-gholf; toernooi-gholf asook gholf-ontwikkeling.
Een van die groot uitdagings wat die Boland-unie in die gesig staar is om sy klubs by te staan in hierdie moeilike finansiële tye waarin klubs moet opereer.
"Een van ons uitdagings gaan wees om beter samewerking tussen klubs oor die volgende paar jaar te bewerkstellig. Ek dink klubs kan baie leer van mekaar. Daar is ‘n hele aantal klubs wat hulle besigheidsplan oor die laaste paar jaar moes aanpas om staande te bly. Van die kleiner en plattelandse klubs trek swaar op die oomblik," sê hy.
"Binne die Unie behoort klubs saam te werk en mekaar te help met byvoorbeeld baan-onderhoud, toerusting-verkope asook -onderhoud, water en besproeiing asook spyseniering.“
"Die uitruil van inligting onderling tussen klubs kan ook 'n groot bydrae lewer tot beter besluitneming by die onderskeie klubs.
Die Voorgee-sisteem van SA Handicaps bied 'n baie goeie platform van feite wat deur die klubs benut moet word. Ek dink aan inligting soos lede se ouderdom - dit kan klubs 'n goeie prentjie gee rakende sy lede se ouderdomsprofiel; asook die aantal rondes wat gespeel word deur die verskillende ouderdomsgroepe asook inligting oor besoeker-rondes. Al hierdie inligting behoort ontleed te word sodat klubs pro-aktief kan optree en die regte besluite neem."
"Dit is verder uiters belangrik dat die Boland Unie besluite neem wat in die beste belang is van die gewone lid. Die unie se bron van inkomste is immers afkomstig vanaf gewone lede wat affiliasie-gelde betaal. Daarom is sterk korporatiewe bestuur asook deursigtigheid nie-onderhandelbare items."
Bezuidenhout is getroud met Maryke en hulle het vier dogters Carli, Jana (getroud met Philip), Mieke en Georgi. Die oudste dogters is klaar "geswot" terwyl Georgi 'n leerling is aan Peak Academy Boland.

Category: