SAIPT vir Juniors - Boland begin dag 1 stewig

Die Bolandse Junior Span het op dag 1 van die SAIPT Junior Toernooi op Benoni so byna die eerste dag onoorwonne afgesluit.
Die Bolanders het die Oostelike Provinsie met 7-5 geklop, maar naelskraap (6.5 – 5.5) teen die Vrystaat verloor.
In die beurtspelle teen die Vrystaat het Daniel Cronje en Angelo Keffers die Bolanders se enigste sege (3/2) behaal, maar beide Jurian Mostert en Alric Rooi asook Hezron Frieslaar en Carlos Losper het in spannende wedstryde met slegs 1 af verloor.
In die enkels het Jurian Mostert op nommer 8 goed gespeel en 5/4 gewen, terwyl Aidon Willemse, Frieslaar en Losper ook seges in die enkels behaal het. In die laaste wedstryd tussen die Boland se nommer 1-speler Cronje en die OVS se Carlos Laranga was alles op die spel, maar die wedstryd is halveer en die Vrystaters het net-net deurgeskraap.
‘n Hoogtepunt was die arend 2 wat Cronje op die derde laaste putjie (7de) behaal het.
Teen die OP het die Bolanders baie beter gevaar in die beurtspelle en seges is behaal deur Mostert en Rooi, Willemse en Keanan Keffers asook Cronje en Angelo Keffers.
In die enkels het Mostert, Willemse en Frieslaar seges behaal, en toe Losper en Cronje beide hul wedstryde halveer het, het die Bolanders die OP se doppie geklink.

Category: