Spelers se veggees was fondament vir seniors-sege by IPT - kaptein

“Ons moes baie diep delf vir die sege by die SAIPT senior toernooi op Katberg en ek is baie trots op wat elke spanlid van die Boland vermag het, sê die Bolandse senior kaptein Archie Steyn.
“Nadat ons goeie seges oor die eerste twee dae van die toernooi behaal het, het ons die Donderdag ‘n rusdag gehad wat nogals in ons guns getel het, want ons kon toe rustig boeke-vat oor ons strategie vir die laaste dag van die toernooi.“
“Ons het besluit om vorm-spelers soos Andre van Dyk en Dirk van der Merwe vroeër te gebruik in die enkels en Jorrie Jordaan is die taak gegee om op nommer 1 te speel.“
“In ons eerste twee wedstryde (Dinsdag en Woensdag) het alles vlot verloop vir ons in die beurtspelle, maar op die laaste dag teen Mpumalanga en Ekurhuleni, het dinge skeef geloop in die beurtspelle en teen Mpumalanga het ons slegs 1 punt in die beurtspelle gekry – ekself en Andre van Dyk het halveer asook Francois le Roux en Dirk van der Merwe.“
“Na die beurtspelle se skok was die druk geweldig hoog op ons spelers in die enkels, maar die manne het pragtig deurgekom en hul vertoning in die enkels spreek boekdele vir hul veggees.“
Steyn sê daar was groot druk op die Boland-span om vanjaar te presteer. “Die laaste jare het ons elke keer gestruikel in die pylvak. Boonop was ons vanjaar een van gunstelinge - so die druk was groot. Ek is daarom soveel te meer trots op die manne se vertoning.”
Steyn sê dit gaan altyd belangrik wees om die sterkste span in die veld te stoot vir die IPT-toernooi. “Daar is nog ‘n paar seniors in die Boland wat puik putjiespel-spelers is wat nie deelneem aan toernooie nie en hulle moet aangemoedig word om te speel.“
Die spanbestuurder, Charl de Villiers het elke spanlid uitgesonder vir hul uitstekende vertoning by die IPT.
“Tog moet Jorrie Jordaan spesiale vermelding kry. Hy het vroeër die week effe gesukkel met sy spel en ons het toe besluit om hom teen Ekurhuleni en Mpumalanga op nommer 1 te speel. Jorrie het die toets met vlieënde vaandels geslaag en albei sy enkels gewen,” het De Villiers gesê.
“Hierdie Boland-span wou regmaak vir die teleurstellings van die afgelope drie jaar en dit het hulle gedoen danksy veggees totdat die laaste sethou geval het. Hierdie span het myself asook die Boland-unie baie trots gemaak.“
MVP-LYS VAN BOLANDERS BY SAIPT (volgorde; speler se naam; punte verdien met beurtspelle; punte verdien met enkels; totale punte verdien vir span; (maksium punte wat ‘n speler kan verdien is 8).
Andre van Dyk 3.5 4 7.5
Francois le Roux 2.5 3 5.5
Dirk van der Merwe 2.5 3 5.5
George Bezuidenhout 1 4 5.0
Jorrie Jordaan 2 3 5.0
Paul Baatjies 2 3 5.0
Franz Lohbauer 1 3.5 4.5
Archie Steyn 3.5 0 3.5

Category: