Boland-vroue maak unie trots by SA Provinsiale toernooi

- 11 October 2019

Die Bolandse vroue provinsiale span het die unie baie trots gemaak met ‘n baie goeie vertoning by die afgelope SA Provinsiale toernooi wat op die baan van Riviera On Vaal Buiteklub gespeel is.
Hierdie toernooi skop af met die Kwalifikasie-toernooi waar spanne se vertonings bepaal in watter afdeling hul gaan meeding in die SA Provinsiale toernooi.
Die Bolanders het uitstekend gevaar in die Kwalifikasie-toernooi en 4de geëindig. Dit het beteken dat Boland, saam met Ekurhuleni, Gauteng en WP A in die A1-afdeling meegeding het.
“Dit was die eerste keer in bykans 10 jaar wat die Boland-span gekwalifseer het om in die top A-afdeling te speel,“ het die spanbestuurder Annerie Coetzee gesê.
Tydens die Kwalifikasie-toernooi het al die Boland-spanlede puik gespeel en hul tellings in die enkels was: Crystal Beukes 74, Megan Streicher 75, Bianca Wernich 77, Shani Brynard 77 Vanessa Smith 77 en Ineke Brynard 78.
In die beurtspelle het Streicher en Shani Brynard ‘n baie verdienstelike telling van 76 gespeel.
Boland se goeie vertoning in die Kwalifikasie-toernooi word onderstreep deur die feit dat die span wat 5de gekom het, Noord-Gauteng, was 21 houe agter die Bolanders!
Tydens die putjiespelwedstryd in Afdeling A1 het die Boland-span weliswaar al drie hul wedstryd verloor, maar die Boland-spelers wat baie mededingend in al die wedstryde en baie van die wedstryde het eers op die laaste putjie of twee geëindig.
“Die baan was baie droog en ons spelers moes kwaai aanpas met houe rondom die setperke. Veral die kaphoue was moeilik met die tipe van gras en die spelers moes maar vinnig aanpas daarby,“ het Coetzee gesê.
“Die spangees was uitstekend en die spelers het in elke wedstryd baie veggees getoon.“
“Ek was veral baie beindruk hoe kalm en rustig die spelers onder druk was. Veral in die Kwalifiserende toernooi kon ek sien dat die spelers se gholfswaai-tempo dwarsdeur dieselfde gebly het.“
Coetzee sê die goeie ervaring wat jong spelers soos Ineke Brynard opgedoen het, hou net goeie dinge in vir die toekoms.
Dit is ‘n jong span maar Megan Streicher het haar reeds gevestig as ‘n opkomende ster in SA vrouegholf.
“Crystal is vanjaar in matriek en sy kon nie so baie tyd spandeer aan haar voorbereiding nie, maar sy is volgende jaar op Maties en ons verwag sy sal van krag tot krag gaan.“
“Vanessa was die ouer en ervare speler in die span, maar sy het baie goed gevaar teen die jong opponente.“
Coetzee het ook hulde gebring aan Bianca Wernich wat waarskynlik in haar laaste provinsiale toernooi vir die Boland gespeel het. “Bianca was ‘n ware staatmaker in die Boland-span die afgelope jare.“
SPANFOTO: Agter: Vanessa Smith, Megan Streicher, Ineke Brynard, Shani Brynard. Voor: Crystal Beukes, Annerie Coetzee (spanbestuurder), Tarryn Borsutzky (president Boland-vrouegholf) en Bianca Wernich.

Boland Ladies Golf; Boland Golf; Boland-gholf