Die Clanwilliam-gholfklub is in 1944 gestig, maar weens ‘n brand het die notuleboeke en korrespondensie in die slag gebly sodat daar nie baie inligting is oor die beginjare van die klub nie.
Mnr P.S. Burger (Oom Pollie) was vir 32 jaar die voorsitter van die gholfklub – vanaf 1944 tot 1975.
Die langsdienende klubkaptein is Dawie Smit (2004 tot 2012). Hennie du Plessis was vir ses jaar voorsitter van die klub. De Beer Schreuder en Johann Groenewald dien ook tussen tien en twaalf jaar op die bestuur en die Bergh’s en oom Callie Nel se name word verskyn ook gereeld in die notules en korrespondensie van die Clanwilliam-gholfklub.
KLUBHUIS
Tydens samesprekings vir die bou van ‘n eerste klubhuis was daar verskille oor die grootte van die gebou. Die klub het net fondse gehad vir die aankoop van vyf sinkplate. Oom Denis Bergh was ten gunste daarvoor dat vyf sinkplate genoeg sal wees vir ‘n klubhuis. Tydens ‘n bestuursvergadering het die bestuur, teen oom Denis se voorstel besluit dat ‘n klubhuis met ses sinkplate gebou word. John Harding, oom Denis se swaer, was die argitek. Donasies is gevra in die vorm van geld en boumateriaal en die klubhuis is staangemaak. Intussen is die klubhuis drie keer vergroot. Oom Denis het oor al die jare die instandhouding van die klubhuis behartig en hierdie verantwoordelikheid word later deur sy seun Anton oorgeneem.
BAAN
Die eerste gholfbaan was op Patrysvlei, die plaas van John Bergh, die tweede baan by die Clanwilliam Dam, waar die Aquatic Club tans is. Daarna is die huidige baan aangelê. Ongelukkig is geen datums bekend wanneer die onderskeie bane aangelê en verskuif is nie.
INTERESSANTE BROKKIES UIT DIE NOTULE VAN DIE KLUB:
05 Augustus 1982 - Caddy-fooi R1,50 Tans R60,00
11 Augustus 1983 - Rooibos-klubwapen word in gebruik geneem
18 Maart 1985 - Eerste gras word geplant op bof nr. 2
22 Maart 1985 - Gary Player besoek Clanwilliam-gholfklub
03 Februarie 1988 - Onthul word ereplaat – Pollie Burger, Dennis Bergh, Dok Muller
12 Julie 1988 - Klubhuis voltooi
11 April 1991 - Sammy Kakefu en Norri Umatsu (Japanese) besoek Clanwilliam-klubhuis. Mnre Kuju en Richard Heyman skenk R31 879,39
29 Mei 1991 - Callie Nel rapporteer dat daar steeds skape, bokke en beeste op die baan wei!
15 Julie 1991 - Dranklisensie word goedgekeur!!
27 November 1991 - AJV goedkeuring van grondwet
12 Augustus 1992 - Gereedskapstoor word opgerig met 3 motorhuis vir gholfkarretjies
Maart 1994 - Clanwilliam Ope word verander na Rooibos Crown Classic
04 Maart 1999 - Die bekende beroepspeler John Bland hou ‘n gholfkliniek by die klub
30 Maart 2007 - Stigtingsvergadering van Noordweste Gholfunie word gehou
18 Desember 2008 - Eerste Lotto-aansoek word afgekeur
23 Februarie 2009 - Tweede lotto-aansoek word goedgekeur – R16 500
10 Desember 2010- Derde Lotto-aansoek word goedgekeur – R820 000
29 Maart 2011 - Jacobsen Setperk-grassnyer word aangekoop
31 Maart 2011 - Falcon Blower-snyer word aangekoop
19 Augustus 2011 - Landini Solis trekker word aangekoop
08 November 2011 - Bofsnyer word aangekoop
16 November 2011 - Inwyding van derde vergroting van klubhuis
18 Desember 2014 - Vierdie Lotto-aansoek word goedgekeur – R200 000
Januarie 2015 - Noordweste Gholfunie word ontbind. Clanwilliam-klub word ingedeel by die Boland-gholfunie - Weskusstreek.
KLUBKAMPIOENSKAPPE
Nico Smith het die uitsonderlike prestasie behaal deurdat hy reeds die klubkampioenskappe 10 keer gewen het. Hy het hierdie prestasie behaal tussen 2007 en 2019 en hy was verskeie kere nog ‘n junior toe hy as klubkampioen gekroon is.
Dereck Heyn het tussen 2001 en 2011 die klubkampioenskappe 5 keer gewen, terwyl Arend Redelinghuys asook K. le Roux die klubkampioenskappe elk 4 keer gewen het.
KOMITEE-LEDE:
Denis Bergh en Anton Bergh is ere-presidente van die klub. Johann Basson is sedert 2008 voorsitter van die klub en Mark Botha is die klubkaptein.
Die volgende persone is ere-lewenslede van die klub: Sammy Kakefu, Nori Umatsu, Yoshizane Kujo, Richard Heyman, SP Tredoux, Denis Bergh, Erik de Milander, Jannie Swart en Anton Bergh.
LIGA-GHOLF
Die jaar 2018 was ‘n hoogtepunt wat betref ligagholf by die Clanwilliam-gholfklub deurdat Clanwilliam die eerste klub in die Noordweste-streek geword het om deur te dring tot die Brodie-finaal.
Die Brodiespan van Clanwilliam het eerstens die Noordwesteliga (Brodie-afdeling) gewen en daarna meegeding in die streek-finale. Nadat Clanwilliam vir Porterville in die halfeindstryd geklop het, het hulle in die finaal vasgeval teen Devonvale.
Foto’s: Die bestuur van Clanwilliam-gholfklub.
Wenners by klubkampioenskappe: Van links: Johann Basson – Voorsitter, Andries Farao – mans-Klubkampioen, Heleene Schreuder- vroue-klubkampioen en Mark Botha – klubkaptein.