Klub van die Maand: Gansbaai se ligging en kondisie maak dit juweel van 'n baan

- 10 June 2020

Die mees suidelike gholfbaan in Afrika is die Gansbaai-gholfklub. Hierdie juweel van ‘n gholfbaan is geleë langs die kus van Kleinbaai.
Omring deur die see, fynbos en die berge het die baan ook sy eie klein ‘dieretuin’ met verskillende spesies bokke, voëls, en skilpaaie wat hierdie uitdagende gholfbaan iets werklik besonders maak.

STIGTING EN GESKIEDENIS VAN KLUB:

Die klub is heel toevallig tot stand gebring gedurende Paasnaweek 1985.
Jacob de Villiers se familie het van oraloor gekom om saam te kuier op Kleinbaai. Die mans is die oggend baie vroeg opgekommandeer na ‘n vissersboot vir ‘n visvang-ekspedisie. Die manne was van ‘n ander stof aanmekaar gesit en wou liewer gholf speel. Daarvoor sou hulle na Hermanus moes ry – ’n bietjie ver. Jacob het gekla dat baie ‘familie-tyd’ so verlore sou raak.
Jacob se haarkapper was Dirk Kotze, wie ook die voorsitter van die Kleinbaai se Belastingbetalersvereniging was. Gedurende die haarsny het hulle ooreengekom dat Dirk sal reël vir ‘n porsie grond wat ontwikkel kon word in ‘n gholfbaan. Dirk het na ‘n kaart gewys en porsies 212 en 213 Perlmoenstraat in Kleinbaai het onder sy vinger gelê –en siedaar - ‘n gholfklub is gebore.
Op 27 Desember 1985 is Jacob de Villiers verkies as voorsitter van Kleinbaai se belastingbetalersvereniging (KBV) gedurende ‘n vergadering in die motorhuis van Hans Swart. Die lede van die KBV het bestaan uit lede van Gansbaai, Kleinbaai en Pearly Beach.
Die doel was om ‘n ontspanningsklub met ‘n klubhuis op die been te bring wat verskeie tipes sport kon insluit.
Gedurende Desember 1985 is planne vir die gholfbaan en klubhuis goedgekeur, en die Munisipaliteit het ‘n bedrag van R120 000 uit die reserwefonds geskenk vir hierdie doel.
Die eerste tentatiewe ontwerp van die baan was in potlood aangebring op die landkaart deur Jacob de Villiers en Andries Brand. Dit is toe oorhandig aan landmeter DJ Nicol van Hermanus, wie die werk gratis gedoen het.
Gedurende Junie 1986 het die ‘bossieslaner’ van die Caledon Afdelingsraad begin met die skoonmaak van die eerste drie setperke – tans putjies 1, 8 en 9.
Hierdie taak was makliker gesê as gedaan want die ondergrondse wortelstelsel was ‘n enorme probleem. Dit was diep en moes met ploeë uitgegrawe word. Dit was nodig dat verskeie kontrakteurs saamwerk om deur die massa wortels te breek. Daarna is dit deur arbeiders van Gansbaai Visserye en Gansbaai Marine per hand verwyder. Dit was ‘n enorme taak.
Toe het die volgende groot taak voorgelê – die plant van die grassooie per hand. Die eerste grassooie is deur Erik de Wet vanaf sy plaas Retreat in Robertson aangery, met sy eie lorrie en werkers. Schalk Joubert, Boetie Geldenhuys, Gansbaai Ko-op, Bokkie Botes, Wilfred Butler, Gansbaai Marine, Andries Brand en Kobus Havenga en al hulle werkers het ‘n groot taak uitgevoer met die plant van die grassooie.
In Desember 1986 is die eerste water gepomp vir besproeiing.
Om fondse in te samel vir die klub is ook funksies, partytjies en danse gehou en op hierdie manier is R10 500 ingebring.
Op 7 Oktober 1987 is die Kleinbaai-gholfklub amptelik in die Sea View Hotel in Gansbaai geregistreer, met Andries Brand en Boetie Geldenhuys as president en vise-President.
Na ter-plaatse ondersoeke is die planne vir die klubhuis gefinaliseer. Op 18 Jun 1987 is die tender toegestaan aan DCW Swart & Seuns, vir die bedrag van R100 252.
Die klubhuis is feestelik geopen met ‘n kaas- en wyn-funksie op 22 Desember 1987 deur die destydse LP mnr. Lampie Fick.

BAAN VORDER

Gedurende 1988 is ‘n verdere drie putjies skoongemaak, en Jac de Wet van Retreat, Robertson het met sy lorrie vol sooie en werkers opgedaag, en die 4de putjie geplant. Gedurende 1990 is die laaste drie putjies geplant, wat die klub toegelaat het om by die SA gholfunie aan te sluit.

INWYDING VAN BAAN

Op 21 Desember 1991, is die 9-putjie gholfbaan amptelik ingewy deur Andries Brand.
Die Staatspresident, mnr. FW de Klerk, het reeds ‘n uitnodiging aangeneem na die opening van Kleinmond-gholfklub op dieselfde dag, en kon nie die Gansbaai-klub se funksie bywoon nie.
Mnr. De Klerk het egter in Januarie 1992 ‘n 9-putjie kompetisie gespeel met Andries Brand, Jacob de Villiers en ‘n borg. Mnr de Klerk is ‘n ‘leftie’ en toe sy veiligheidsbeampte sy gholfstokke uit die motor gehaal het, het hy per ongeluk die setyster gebreek. Een van die klub se plaaslike ‘lefties’ het sy setyster aan die Staatspresident geleen, wie toe die kompetisie baie geniet het.

OORSESE BESOEKERS ASOOK OORSESE LEDE MAAK GROOT DEEL UIT VAN KLUB

Toe met die skoonmaak van die baan begin is in 1986, was daar 15 manne teenwoordig, en slegs Jacob de Villiers was ‘n gholfspeler. Vandag is hierdie baan ’n lewende monument vir die visie, moed, volharding en die wil om te slaag.
Gansbaai-gholfklub het die afgelope 34 jaar sterk groei getoon.
Hierdie klub is ooraloor bekend vir sy vriendelikheid en dit is dan een van die belangrikste redes hoekom die klub so gewild is by oorsese besoekers.
Johan Coetzee, voormalige klubkaptein en tans tesourier van die klub vertel: “Deur die jare het ons spelers ontvang van lande soos Duitsland, Oostenryk, Liechtenstein, Japan, Holland, Ierland, Engeland, Guernsy Eiland, Frankryk, Italië, Australië, VSA, Korea, Vietnam, Switzerland, Singapoer, Swede, Noorweë, België, Madagaskar, China en selfs Rusland! Hulle het ook vir ons landsvlae gebring wat nou ons kroeg versier.“
Die klub het ook ‘n hele aantal lede van oorsee.
“Sommige van hulle is lede vanaf die 1990‘s – ons oudste lid, Richard Lisch, is 94 jaar oud en so hups dat hy en sy geliefde elke dag (ongeag die weerstoestande) die berge van Feldkirch in Oostenryk, Vienna en Liechtenstein uitklim net vir ontspanning! Richard het nog nooit in sy lewe met ‘n gholfkarretjie gery om gholf te speel nie. Hy stap - 94 jaar lank!“
“Ons oorsese lede kom gewoonlik vir 3 maande kuier en dan lewe die klub sommer want hulle is almal joviale mense. Ons leer om snaakse kosse te eet tydens hul besoeke wanneer hulle kompetisies borg. Benewens die oorsese lede, maak ons staat op lede vanuit elke uithoek van ons mooi land – hulle kom gedurende vakansies, Paas-naweek, en die Kersvakansie om hul batterye te herlaai en ontspan dan op die gholfbaan.“

KLUB WORD MONDIG

“Op 11 Oktober 2008 het ons ons 21ste bestaansjaar gevier met ‘n groot makietie en baie van die Rugby Boklegendes het die naweek saam met ons gespeel. Dit was ‘n fees! John Gainsford, Robbie Blair, John Villet, HO de Villiers, Theunis Briers, Tiny Neethling, Dave Steward, Sakkie de Klerk, Albie de Waal was almal hier in aksie.”
“Daar vind jaarliks ‘n Rolbal vs Gholf uitdaagwedstryd plaas, asook die Interdorp-uitdaagwedstryd tussen die lede. Een keer per maand op ‘n Vrydagaand is ons sosiale aand waartydens daar steak ‘n chips gebraai en lekker gekuier word.”
“Ons het Familie-dae wanneer Oupa en Ouma elkeen ‘n kleinkind as maat het. Dit is natuurlik baie pret vir die kleingoed!

BORGDAE MET INTERESSANTE NAME:

“Borgdae met interessante name word gereeld aangebied, soos die gholfdag met die naam: Bakgatbrandewynparadysfontein (ja, regtig!) dit was Koos Myburgh se slimmigheid!
“Die Beeskraal Ope word aangebied deur klubkaptein, Bev en Frances Swart, met afdelings vir ouderdom 20-50 = Tollies; 51-65 = Bulle; 66-90+ = Osse. Die dames is dan natuurlik Koeie wat genadiglik (vir die vroue!) darem ontwikkel het in Koeitjies!“
“Daar is ook die gevreesde Greenkeeper’s Revenge wat vir benoude oomblikke sorg.”
“Gedurende die Desembervakansie is daar vele aanbiedings. Die Gansbaai Classic word aangebied deur OK Foods, en die LT Classic bring elke November fondse in vir die Ligaspan. Die formaat is ‘n 2ball American Scramble en word aangebied deur vise-kaptein Pieter Loubser en Melvin Tobias.“

LEDE-GETALLE

“Ons klub se gereelde spelers op Woensdae, Vrydae en Saterdae is ongeveer 30 - hierdie spelers dra die klub.
In 2019 was daar altesame 4 800 rondes gholf gespeel by die Gansbaai-klub. Besoekers alleen het vir 1 100 rondes gesorg.
Die klub se ledetal beloop tans 239 met 156 gholfspelers, buitelede 19, oefengroep-vroue 21, sosiale lede mans 22, sosiale lede vroue 14, muurbalspelers 7. Ons het tans 46 lede van oorsee.“
“In 2008 was ons ledetal 603, toe kom die moeilike tyd van finansiële ineenstorting toe oorsese besoekers nie meer so vrylik kon reis en vakansie hou nie – almal het maar finansieël swaargekry. Dit was ‘n swaar slag maar, ons het oorwin!”

LIGA-GHOLF EN KLUBKAMPIOENSKAPPE

Gansbaai het in 2014 en 2015 die Overberg-liga in die Bolandse Brodie-kompetisie gewen.
SAGES-gholfdae word ook gereeld op Gansbaai gespeel en die dag word baie geniet deur almal.
Andrè Gouws het die meeste Gansbaai-klubkampioenskappe gewen – 5 keer. Die huidige klubkampioen is Francois van der Merwe.

GANSBAAI-KLUB SE BESTUUR:

Die huidige bestuur is: President: BJJ Pieterse, Klubkaptein: Bev Swart; Vise-kaptein: Pieter Loubser, Tesourier: Johan Coetzee. Bykomende lede: Koos Myburgh, Johan Pfister, Fanus Walters, Hennie Kriel en Clive Bailey
Die klub se eerste president was Andries Brand (1987 tot 1993). Hy is opgevolg deur BPH Geldenhuis (1994 – 1998). JF Erasmus was van 1999-2001 die president en daarna Norman Fisher (2002 tot 2013). Johan Coetzee was vir die termyn 2014 – 2015 die president en die huidige president BJJ Pieterse is vanaf 2016 in die stoel.
Vorige klukapteins was Wilfred Butler, Norman Fisher, Johan Coetzee, J. Nell, Daan Victor en die huidige kaptein Bev Swart.

FOTO’S: Die skilderagtige ligging van die Gansbaai-gholfklub.
Die fynbos en groen skoonvelde en setperke is besondere eienskappe van die Gansbaai-gholfklub.

Boland Golf Union