Klub van die Maand - Hexvallei is 'n droom wat waar geword het

- 10 December 2019

Voordat die Hexvallei-gholfbaan opgerig is, moet gholfgeesdriftiges van De Doorns na Worcester ry om die spel te beoefen.
’n Leraar van De Doorns, ds. Piet Hugo, was een van die groot gholf-entoesiaste en hy het gereeld op Worcester gaan speel. Hy het op Woensdag-oggende sy gemeentelede wat opgeneem is in die Worcester-hospitaal gaan besoek, en dan in die middag gholf gespeel.
Een van ds. Hugo se geliefkoosde gesegdes was: “Gholf is ‘n gentleman’s game en hier in De Doorns is so baie van hulle. Dit is ‘n spel wat in die natuur beoefen word, dis goeie ontspanning en goed vir die geestelike.“
Een van die boere van De Doorns Niël Jordaan (later kaptein, president en ere-president van die Hexvallei-gholfklub) het in die jare tagtig begin om saam met die ander De Doorns-gholfgeesdriftiges te speel op Worcester. Soos Jordaan die spel gholf beter leer ken het, so het die droom om ‘n gholfbaan op De Doorns op te rig al hoe groter by hom asook sy mede-gholfgeesdriftiges geword.
Die De Doorns-mense het vanaf die begin besef dat indien daar ooit ‘n gholfbaan sou kom, sou die meeste van die werk self gedoen moes word deur plaaslike boere, hul werknemers en dorpenaars.
Hoe bou ‘n mens ‘n gholfbaan was Jordaan en sy maters se groot vraag?
Hy het besluit om te gaan kers opsteek by klubs in die omgewing en het besoeke gebring aan Laingsburg-gholfklub asook Bonnievale-gholfklub. Daarna het hy dit opgevolg met ‘n besoek aan Kleinmond want hy het verneem dat ‘n gholfbaan binnekort opgerig sou word by hierdie kusdorpie.
In September 1989 het hy Kleinmond besoek waar hy die ingenieur Francois Malherbe ontmoet het wie se stokperdjie was om gholfbane te ontwerp. Malherbe was juis toe betrokke by die ontwikkeling van die gholfbaan op Kleinmond.
Malherbe en Jordaan het lank en indringend gesels oor die uitdagings om ‘n gholfbaan op te rig by De Doorns. Malherbe het ook Jordaan aangemoedig om te begin met onderhandelinge met die munispaliteit en al die grondeienaars.
Verskeie samesprekings en vergaderings is met alle belanghebbendes gehou en die gholfklub-idee is heel positief ontvang.
Intussen het Gideon Messeinheimer (latere kaptein asook president van die gholfklub) Jordaan se regterhand geraak wat die gholfbaan-projek betref en hulle het ook vir Patrick Bettesworth van die plaaslike Standard Bank-tak betrek sodat hulle darem ‘n kundige oor finansies ook aan boord gehad het.
Jordaan en sy mede-De Doorns-gholfgeesdriftiges het besef dat hulle omtrent 50% van die kostes sal spaar indien hulle die baan self bou.
Onmiddellik is begin om planne te maak om fondse in te samel en die eerste poging was ’n “Cowboys and Indians“-dansparty op 28 April 1990. Dit was ‘n groot sukses en die gholfbaan-fonds het dus goed afgeskop.
Op Maandag 8 Augustus 1991 is die Gholfklub amptelik gestig (hoewel die bouwerk aan die gholfbaan nog in sy kinderskoene was). Niël Jordaan was voorsitter van die gholfklub se eerste komitee met Johan Jordaan onder-voorsitter en Niël Jordaan se vrou, Elza die sekretaris. Ander lede het ingesluit Hennie Lategan, Gideon Meissenheimer, Kobus Viljoen (verteenwoordiger van De Doorns Munisipaliteit) en Bettesworth (tesourier).
Malherbe het die ontwerp van die baan gedoen.
Toe die bouwerk aan die gholfbaan begin het, het die gemeenskap van De Doorns gewys hoe hulle kan saamwerk want talle plaaslike boere het hul hulp aangebied om die grond voor te berei sodat gras geplant kan word vir die setperke, bowwe asook skoonvelde.
Sowat 500 bome is geplant asook 160 Karee Wilger-steggies – al langs die lyndrade.
Jordaan en sy bestuur het noukeurig dagboek gehou van die bouwerk en hulle rapporteer as volg: “Op die 60ste dag het Coenie Fred se bestuurder met die grassaad gearriveer. Op die vragmotor was ook ‘n soort “instrument“ wat jy agter ‘n trekker aanhak. Ek het gedink dat die graanboere op hierdie manier seker koringsaad in die grond bring. Die saad was net hel fyner en so ook die saaimasjien, want hierdie kweek-saad was fyn.“
Daar was 18 dames wat by die klub aangesluit het - insluitende dames wat slegs sosiale lede was. Die vroue het ook fondsinsamelingsprojekte gehou en onder meer R3 000 ingesamel met ‘n rose-dag.
Hoewel die amptelike opening van die Hexvallei-gholfbaan eers in Augustus 1992 was, is daar op 11 April 1992 vir die eerste keer gholf gespeel op die baan. Die oggend het almal ‘n lekker ontbyt geniet en na die gholf was daar ‘n hoenderbraai en prysuitdeling.
Op ‘n spesiale vergadering van die gholfklub tien dae later (21 April 1992) is ‘n hele paar sake bespreek. Gholfetiket het ook ter sprake gekom en daar is genoem dat van die spelers in hul sakke rondkrap as ‘n ander speler sy hou speel. Ook is in die notule geskryf: “Party ouens het selfs ‘n fyn windjie gelaat as die ander speler erg konsentreer.“
Die klub het daarop besluit om ‘n tugkomitee in die lewe te roep wat onder meer ten doel het om spelers meer van die etiket van gholf te leer.
Die amptelike opening van die gholfbaan was Saterdag 8 Augustus 1992. Daar is die voorafgaande Vrydagaand ‘n heerlike dans gehou en verskeie ere-gaste was genooi insluitende die Adjunk-Minister van Toerisme, David Graaff, asook Koos Theron LUK.
Die volgende oggend is die baan amptelik geopen toe Adjunk-Minister Graaff die lint geknip het.
Jordaan gee in sy skrywe ‘n insiggewende blik op hoe die Hexvallei-lede hul gholfprogram vir die jaar gereël het.
Eerstens is ‘n datumlys van die rugbyseisoen van die WP op Nuweland aangevra by Theuns Roodman, destyds bestuurder van WP-rugby. In daardie jare het omtrent al die gholfklub-lede seisoenkaartjies op Nuweland gehad en as die WP gespeel het, was die Hexvallei-gholfers op Nuweland.
Ook is gesorg dat daar geen gholfkompetisies gereël is wat sou bots met die kinders se skole-atletiekbyeenkomste nie.
Baie lede van die klub het ook gedurende die jaar in Namibië gaan visvang en jag en daardie naweke is ook oopgehou.
Om geesdrif aan te wakker vir gholf het Jordaan die dienste bekom van die afrigter Porky Pienaar.
Hy vertel Pienaar het onder ‘n boom in die koelte gaan sit met ‘n radio wat aan ‘n tak hang - Pienaar het graag na die krieket-uitsendings geluister. Pienaar het eerste die spelers se greep ondersoek en ‘n bietjie raad gegee. Daarna het hy dopgehou hoe die speler slaan en het dan self die stok gevat om te wys hoe dit eintlik gedoen word.
Jordaan het ook vertel dat hy goeie raad gekry het van die oud-Bolandrugbyspeler en lid van die Ceres-gholfklub Pietman Basson. Pietman het hom vertel van hoe hulle geld insamel danksy die Ceres Classic en dit het die saadjie geplant by Hexvallei om met hul eie Classic te begin.
Vandag is die Hexvallei-baan (9 putjies) ‘n baan wat baie lof ontvang van besoekers. Die baan is in ‘n pragtige omgewing geleë en beskik oor ‘n paar uitdagende putjies. Die klub se president is Danie Wium.

KLUBKAMPIOENE EN UITBLINKERS

Die eerste wenner van die Hexvallei-klubkampioenskappe was Garth Schwegmann – hy het altesame 3 keer hierdie prestasie vermag. Ook Louis Becker, Duppie van Zyl, Malan Kriel, Kobus Barnard en Anton Bruyns het elk twee keer die klubkampioenskappe gewen. Nico van Rensburg wat ook vir die Boland se IPT-span gespeel het, het ook ‘n klompie kere die klubkampioenskappe gewen.
Hexvallei se klubkaptein, Cobus Esterhuyse, het vanjaar die klubkampioenskappe gewen.
Drikus Bruyns wat in 2011 die klubkampioen was, het vier jaar vir die Bolandse IPT-span gespeel. As amateur het Bruyns ook sy SA kleure verwerf. In 2013 het hy as beroepspeler op die Sonskynreeks begin speel en dit gedoen vir die volgende vier jaar.

HEXVALLEI OPE
Die klub het die afgelope jare met groot sukses ‘n ope-toernooi aangebied en hierdie toernooi het nog altyd top-spelers van die Boland getrek. Die laaste paar jare se wenners was: 2016 – Keelan Africa; 2017 – Keelan Africa; 2018 – Karl Ochse en 2019 – LB Boshoff.

VROUE-AFDELING
In 2011 is ‘n vroue-komitee in die lewe geroep met Deidre Viljoen as kaptein. Viljoen is in 2015 opgevolg deur Connie Kok as kaptein en Sue Jordaan is sedert 2018 die vroue-kaptein.
Tans bestaan die vroue-afdeling uit 16 lede.
Minette Bruyns (ma van Drikus) het die vroue-klubkampioenskappe deur die jare oorheers en altesame 13 keer hierdie titel verower. Phoeboe van Eeden het self die klubkampioenskappe 5 keer gewen.

Boland Golf Union
,
Hexvallei-gholfklub
,
Hex Valley Golf Club