KLUB VAN DIE MAAND - MONTAGU: hier word vir bykans 90 jaar al met groot geesdrif gespeel

- 25 March 2021

Gholf word reeds vir bykans 90 jaar op hierdie pragtige Klein Karoo-bestemming gespeel
Gholf word al vir bykans 90 jaar op Montagu gespeel.
Die Montagu-gholfklub is in 1933 gestig en is op 27 November 1935, amptelik geopen deur die destydse bankbestuurder van Standard Bank, CP Naude.
Die baan se uitleg en ontwerp is deur die geesdriftige Montagu-lede self gedoen.
Wat die onderhoud en instandhouding van die Montagu-baan deur al die jare betref, kan ’n mens net hulde bring vir die bereidwillig van lede om ’n daadwerklike bydrae te maak – sonder dat vergoeding ooit ’n faktor was.
Gedurende die vroeë jare van die klub het heelwat lede byvoorbeeld hul grassnyers van die huis gebring om die skoonvelde te sny. Ook talle intandhouding-items asook baan/klubhuis-uitbreidings is gratis deur die lede self gedoen.
Die oorspronklike klubhuis was oorkant die pad geleë waar huidige 8ste/17de bof tans is (destyds was dit die 1ste en 10de bof). Hierdie uitleg is gespeel vanaf 1933 tot die 1980’s toe die nuwe klubhuis gebou is op die huidige perseel.

NUWE KLUBHUIS

Die nuwe klubhuis asook veranderde uitleg van die baan (soos dit tans nog gespeel word) is in 1985 ge-open.
Deur die jare is daar heelwat verbeteringe en veranderinge aan die baan (asook klubhuis) aangebring – insluitende sandkuile asook skoonveld-sandkuile.
’n Pragtige brug (geskoei op die beroemde St Andrews-brug op die 18de putjie van St Andrews) met die toepaslike naam St Montagu is ook oor die watersloot aangebring. Die brug in 2018 gebou en is moontlik gemaak deur skenkings vanaf Kaap Agri Montagu asook Mega Bouers en lede van die klub.
Die Montagu-klubhuis het ’n besondere ligging en die
uitsig vanaf die „deck“ by die klubhuis is asemrowend - jy kyk uit oor nommer 9/18 se setperk en skoonveld en die welbekende Langeberge vorm in die agtergrond ’n pragtige prentjie.

“FEATURE HOLE“

Die mees uitdagende putjie (“Feature Hole“) van die Montagu-klub is putjie 3/12 (syfer 4).
Hierdie putjie het ’n skerp elmboog (dog leg) na links en word die hele pad beskerm deur ’n lang ry bloekombome. Die speler wat die bal baie lank kan slaan asook baie waagmoed het, kan probeer om die setperk vanaf die bof te bereik, maar die meerderheid van die gholfspelers volg die „langpad“ om die bome. Edwin Stemmet, wedstryd-sekretaris van die gholfklub, beskryf dit so: “Ons praat altyd van die “Risk & Reward“ Angels corner“... want slegs die engeltjies kan jou bal deur die gaping op die setperk laat land.“

UITBLINKER-SPELERS

Montagu het deur die jare heelwat goeie spelers opgelewer en Kosie Conradie, Coenie Swanepoel, Martin Mitchell en Lauritz Loubser het almal vir die Bolandse platteland-span met groot sukses gespeel.
Montagu-klub speel ook al baie jare lank liga-gholf in die Boland. Die klub se Kruger-span het al die Kruger-finaal bereik, terwyl van sy Brodie-spanne al silwerware huistoe gebring het ook van die BBL-spanne en Bakleiliga-spanne.

FROST-GESIN HET NOUE VERBINTENIS MET BAAN

Altus Joubert hou die rekord vir die klublid wat die meeste kere Montagu se klubkampioenskappe gewen het. Hy het dit 5 keer gewen – in 1987, 1989, 1992, 1993 en 1996).
Rynard van Eeden jnr het ook ‘n goeie rekord in die klubkampioenskappe en het dit 4 keer gewen – in 2002, 2007, 2010 en 2011) asook Kosie Conradie 4 keer - in 2013, 2014, 2017 en 2018.
Michel Frost, jonger broer van die bekende PGA-speler David Frost het in ’n stadium die baanrekord gehou met ’n telling van 67, maar Rynard van Eeden jnr. het dit later verbeter tot 64.
Michel was vanaf 1981 tot 1984 lid van die Montagu-klub en het twee keer die klubkampioenskappe gewen.
Sy pa Donnie Frost wat in die omgewing geboer het, het in die bestuur gedien en was ook vir ’n termyn klubkaptein.
David Frost is ’n erelid van die Montagu-klub.

Boland Golf Union