KLUB VAN DIE MAAND: MOORREESBURG - diep spore is in 107-jarige bestaan getrap by hierdie gholfklub

- 29 October 2020

Moorreesburg gholfklub is een van die heel oudste klubs in die Boland en het reeds in 2013 die klub se 100-jarige bestaan gevier.
Wanneer ’n mens na die klub se geskiedenis kyk, val dit op hoeveel gehalte-gholfspelers dié plattelandse klub opgelewer het.
Dis ook interessant om te sien hoe nou verweef die klub se geskiedenis is met die dorp se rugby en krieket.
Die onderkaptein van Paul Roos se Springbok-rugbyspan wat in 1906 na Brittanje getoer het, Paddy Carolin, en dr. J.P. du Toit was die klub se stigters.
Carolin was ook later jare afrigter van die Moorreesburg-rugbyspan en in die vyftigerjare was dié span een van die sterkste klubspanne in die land met Springbokke soos Chris en Willem Koch, Butch Lochner en Melt Hanekom in sy span.
Carolin was die groot dryfveer by die gholfklub en in ‘n berig in Die Burger van 18 Junie 1931 skryf die verslaggewer dat Carolin ‘n groot rol gespeel het in die verskuiwing van die ou harde baan na die nuwe baan. In Die Burger se artikel word ook vermeld dat die klub net meer as 50 aktiewe lede het en dat meer as 2 000 suikergom-bome reeds op die baan geplant is.
In die beginjare is gholf in Moorreesburg net in die winter gespeel. In die somer is die skoonvelde van die 4de en 5de putjies as die dorp se krieketveld gebruik.
Eers in 1960 is krieket op ’n aparte veld begin speel en die gholfspelers kon die hele jaar die baan gebruik.
’n Hele aantal van die dorp se rugby- en krieketspelers het ook gholf gespeel.
Een van die Moorreesburg-gholfklub se klubkampioene was die Springbok-senter Pat Montini. Montini was in 1956 ’n lid van die Bok-span wat na Nieu-Seeland getoer het.
Moorreesburg se klub¬kampioene-bord word deur die Smitte oorheers. Eers was dit die beurt van die boer en garage-eienaar Appel Smit.
In 1970 het sy seun Bertus oorgeneem en hy is vir meer as 20 keer as die Moorreesburg-klubkampioen gekroon.
Bertus se jonger broer, Ben, was self ’n keer klubkampioen. Hy het bykans 50 wedstryde vir die Bolandse rugbyspan skrumskakel gespeel.
Benewens die Smitte het Moorreesburg ook ’n hele aantal puik gholfspelers opgelewer.
Joe Buirski was vir jare ’n formidabele gholfspeler en was op 50-jarige ouderdom steeds kaptein van die Boland-span.
Hy het ook baie gedoen om die kinders van die omgewing te leer om gholf te speel.
Piet Kemp wat bekendheid verwerf as ’n gedugte haker van die Bolandse rugbyspan, het self ’n keer of wat vir die Bolandse gholfspan gespeel.
Hoewel Billy Watson sy gholf in Somerset-Wes geleer het, het hy as jong man in Moorreesburg kom werk, en hy was ook vir jare een van die Boland se top-spelers.
Ook Dirk van der Merwe het met groot onderskeiding vir die Boland gespeel en was ook kaptein van die span. Ferdie van der Merwe was ’n ander Moorreesburger wat met groot sukes vir die Boland gespeel het.
Hugo Moller, ’n voormalige kaptein van Moorreesburg, sê ’n rede vir die klub se welslae is die groot liefde vir sport wat die streek se mense het. Ook was die gholfklub die sosiale kern van die dorp.
“Die kinders het destyds in die motors op die eerste bof geslaap, terwyl die ouers in die klubhuis gedans het.”

Boland Golf Union
,
Moorreesburg gholfklub
,
Pat Montini