KLUB VAN DIE MAAND: MOORREESBURG - Ondersteuning van gemeenskap dra klub deur swaar tye

- 29 October 2020

Moorreesburg-gholfklub het in sy 107-jarige bestaan al baie uitdagings in die gesig gestaar – soos ook wat tans die geval is met Covid19.
Maar die Moorreesburgers is taai mense. Dis mense wat na aan die grond lewe en baie lief is vir hul sport, en uitdagings en rampe laat hulle nie onderkry nie.
Jannie Durr, kaptein van Moorreesburg-gholfklub, vertel: “Covid19 het die klub baie seergemaak, maar dit gaan tans goed met die klub en ons oorleef. ’n Groot rede daarvoor is die ongelooflike ondersteuning wat die klub van die dorp en gemeenskap gekry het en ons dank hulle daarvoor.“
’’Die baan was na my mening vanjaar die mooiste wat hy die afgelope vyf jaar was. Die reën het op die regte tyd gekom. Ook het ons baan-personeel onder moeilike omstandighede puik werk gedoen.”.
“Ons groot uitdagings bly natuurlik genoeg water vir die baan asook die koste daarvan om dit by ons te kry.“
“Een van ons groot drome is om outomatiese besproeing te installeer sodat ons snags kan water gee....wie weet, dalk eendag....“
“Ons is trots op ons klub en sy mense. Die gees is goed. Op die ou end van die dag kan jou baan ook hoe mooi lyk, dis die mense wat die klub maak...!“
“Ons sien uit na 2021 en om weer al die gaste te verwelkom. Ons bid vir goeie reën oor die Swartland vir die jaar wat kom, want sonder genade van Bo kan jy niks doen nie.“
Durr sê die jongste verandering wat die gholfklub gedoen het was om ’n pragtige “natgat-gebou“ op te rig asook buite-braai op die stoep. Hierdie veranderinge is baie goed ervaar deur die lede.
Wat die vroue-afdeling betref, sê hy dit bly altyd ’n uitdaging vir die klub om ledegetalle onder die vroue te kry, maar daar is vroue-lede wat gereeld gaste nooi na gholfdae. Die klub bied ook elke jaar ’n Vrouedag aan en het altyd ’n vol veld.
Van Moorreesburg-klub se grootste gholfdae is die Boeredag, Openingsdag, Tiger Classic en die Damesdag.
“Die Boeredag is by verre ons bekendste dag en is jaar na jaar stampvol binne ure na die inskrywings oopgemaak het.
“Al die Boeredag-pryse is afkomstig vanaf die plaas, en almal wen altyd - vleis, hoender, wors, brood, patat, pampoen, wyn, skorsies, beet, wortels, aartappels, lemoene, nartjies is maar net ’n klompie van die produkte wat deur die jare gewen is.
“Ons wil dan sommer weer van die geleentheid gebruik maak om ons boere en besighede in die omgewing te bedank vir hul oop hand en hart elke jaar met die dag en ons ander gholf- dae.“
Die klub het tans heelwat jonger lede en daar is derhalwe ’n goeie balans tussen ouer en jonger spelers by die klub.
“Ons het heelwat jong lede en ons is baie dankbaar daarvoor want dis ons toekoms. Die ouer lede van die klub is die manne met ervaring en die jonges leer graag by hulle.“

10DE IS BAAN SE “FEATURE HOLE”

Moorreesburg se “feature hole“ is die 10de putjie (syfer 4, 356 meter, streep 8).
Wat hierdie putjie so uitdagend maak is al die hindernisse wat spelers moet oorkom – veral met hul bofhoue.
As jy die bal links trek vanaf die bof is jy waarskynlik buite perke, want die hele pad links vanaf die bof tot die setperk word begrens met die buite-grens-lyn; teerpad en huise.
Ook as jy die setperk te lank mis, is jy “out of bounds.”
Net regs van die skoonveld staan een van die grootste bloekombome op die baan en hierdie boom vang al die laerige balle van die manne wat probeer om die “tiger line’’ te neem.
En as jou lyn regs van die groot bloekomboom is en jy ’’draw’’ nie die bal genoeg nie, beland jy in die dam.
Aan die linkerkant van die skoonveld wag daar vir die speler ’n skoonveld-sandkuil.
As die stoep vol is van die manne wat die oggend reeds gespeel het en jy staan op die bof op die 10de dan knaag jou senuwees behoorlik want daar is eenvoudig nie kans vir ’n “bail-out’’ nie. Jy ervaar DRUK in hoofletters. Daar is selfs beroepspelers wat opgemerk het dit is gelyk aan die druk wat hulle in beroepsgholf moet trotseer.

Boland Golf Union; Moorreesburg Gholfklub