Klub van die Maand: Riverside - daar is onblusbare geesdrif vir gholf

- 19 May 2020

Riverside en geesdrif vir die spel gholf is sinonieme. Jy sal baie ver moet gaan om ‘n klub te kry wat meer geesdriftig oor gholf is as die Riverside-klub.
Die Riverside-gholfklub is op 14 April 1969 gestig – en die klub se eerste gholfbaan was geleë op die stuk grond op die Rawsonville-pad na Worcester (waar ‘n groot bierverspreiding-maatskappy vandag staan).
Die baan het uit 6 putjies bestaan en die baan het tot stand gekom danksy die harde werk van die lede – hulle het alles self gedoen
Die stigterslede was: Kulk Martinus; James Matthee, Edgar. Martinus, James Mahoney, Vernon Issel, Gerald Langeveldt, Christie Joseph, Pieter Levendal en Danville Stevens.
Gerald Langeveldt was die klub se eerste president en Kulk Martinus die eerste klubkaptein. James Matthee was die eerste wenner van die klubkampioenskappe in 1969.
In 1972 het die klub geskuif na die grond waar vandag die Avianpark-woonbuurt gevestig is.
Op hierdie grond het die lede weer eens met groot geesdrif die taak aangepak om die gras te plant en die setperke te vestig. Daar was ‘n struktuur wat as klubhuis gedien het, maar na afloop van kompetisies is almal na die destydse Nerina Hotel waar die prysuitdelings gehou is.
In 1985 het die klub verskuif na sy huidige tuiste – langs die Aan De Doorns-weg.
Die Worcester Munisipaliteit het ‘n groot rol gespeel in die vestiging van die baan. Die baanargitek Ken Elkin is aangestel om die baan-ontwerp te doen en danksy die munisipale steun is die skoonvelde, setperke en bowwe opgerig.
Ook het die klub sy eerste formele klubhuis in sy bestaan gekry.
Die Riverside-gholfklub het tot vandag nog ‘n baie goeie verhouding met die Munisipaliteit en waar hulle kan, het die Munisipaliteit nog altyd vir die klub probeer help.
Die klub se president is Shameel Martinus en Shane Ross is die klubkaptein.
Riverside-klub is self verantwoordelik vir die onderhoud van die baan en een van hul geesdriftige lede, Rushdi Tromp, is die baanopsiger en sorg dat die skoonvelde en setperke (Bayview-gras) in ‘n goeie toestand is. Tromp is ook vise-kaptein van die klub.
Die baan (in totaal 18 putjies) bestaan uit 9 putjies met 2 bowwe elk.
Martinus sê die baan se uitstaande putjie is nommer 11. Die 11de putjie is ‘n syfer drie van 188m lank en is streep 8. Regs van die skoonveld is “Out of Bounds” en links van die skoonveld ‘n water-hindernis. Die setperk word aan beide kante beskerm deur twee sandkuile, een links voor en die ander regs langs die setperk.

LEDETAL EN GROOT GHOLFDAE

Die klub het altesame 104 lede asook 23 juniors. Baie van die lede kom vanaf ander plekke maar speel gereeld by Riverside – die plekke sluit in Kaapstad, Kuilsrivier, Robertson en Villiersdorp.
Die klub se grootste gholfdag van die jaar is die VGK-kerk se gholfdag. Die veld is altyd daardie dag “tjok en blok“ vol spelers.
Die klub hou ook jaarliks ‘n Memorial Gholfdag waartydens die klub, lede wat reeds oorlede is, huldig.
In hierdie stadium het die klub nie vrouelede nie, maar Martinus sê hulle beoog om die klub aantreklik te maak vir vroue om ook te speel.
“Ons het ‘n paar planne op die tafel rakende aanbouding van die klubhuis en een van die doelwitte is juis om die klubhuis meer vriendelik te maak vir vroue.“

PROVINSIALE SPELERS

Riverside het talle goeie gholfspelers oplewer.
Hierso volg ’n lys van die spelers wat provinsiale kleure verwerf het:
• Basil Williams – Boland Platteland;
• Sammy Adonis – WPK-span;
• Shaheen Martinus – WPK-span; Boland-Platteland;
• Cedric Rooi – WPK-span; Boland IPT-span, Boland Platteland, Boland o.18;

JUNIORS

Daar is geweldig groot geesdrif in die junior afdeling van Riverside en in samewerking met die SA Gholfontwikkelingsraad (SAGDB) word gereeld afrigtingsklinieke aangebied. Hierdie program het al soms meer as 100 junior gholfers betrokke gehad. Baie van hierdie juniors is nog steeds aktief betrokke by die klub. Ruben Adams doen die afrigtingswerk by Riverside onder die juniors.
Talle juniors wat hul gholf geleer het by Riverside het ook provinsiale kleure verwerf. Hierso volg die lys:
• Winston Adams – o.14; o.23 IPT;
• Shane Ross – o.12; o.13; o.16; o.18 IPT; o.23 IPT;
• Byrone Williams – o.16;
• Divan Apollis – o.12; o.13; o.14;
• Keelan Africa o.12, o.13, o.14, o.16, o.18, o.23 IPT, Senior IPT, PGA-beroepspeler;
• Dylan Fredericks – o.18
• Riaan Rooi – o.14; o.16; o.18 IPT; Boland Platteland
• Jamie Joseph – o.14; o16
• Aidon Willemse – o.12; o.13; o.14; o.16; o.18; Senior IPT
• Cullen Timm – o.18 IPT
• Alrich Rooi – o.12; o.13; o.14; o.16; o.18 IPT
• Llewellyn Buys – o.18
• Sergio Japhets – o.12; o.13
• Lucenne Willemse – o.12; o.13

• Op administratiewe vlak is Riverside ook goed verteenwoordig met Michael Hattingh wat dien op die Boland Gholfunie se uitvoerende komitee

OPE-TOERNOOI EN REKORDS

Die geesdrif wat die Riverside-lede vir gholf het, wys duidelik elke jaar uit die groot belangstelling in die Riverside Ope.
Die eerste Riverside Ope is in 1988 gespeel en die meeste Ope-toernooie is gewen deur James Matthee – hy was 4 keer kampioen.
Ockie Strydom wat tans op die Sonskynreeks speel, het die laagste telling aangeteken tydens ‘n ope-toernooi, naamlik 67.
Die baanrekord van 64 word gehou deur Winston Adams wat dit behaal het tydens die klubkampioenskappe.

Boland Golf Union