KLUB VAN DIE MAAND: Riviersonderend het sy eie "Amen Corner"

- 14 August 2020

Riviersonderend-gholfklub het sy ontstaan in 1938 gehad. Van die stigterslede was Phillip van Blommenstein, Van Deurs Eksteen, Kobus Jooste en Faan Eksteen.
Die beginjare was moeilik aangesien daar geen water op die baan was nie. Water is eers in 1964 aangelê en ook eers net vir die bowwe. Daar is op sand-setperke gespeel tot 1970.
In Maart 1970 is die eerste gras-setperke geplant. Die setperke is vir baie lank met ‘n Lanz-trekker en tenkwa natgelei.on
Die klubhuis was aanvanklik baie klein, met die kluis wat as kroeg gedien het. Elke lid wat kom speel het, moes sy eie drankies bring en dit weer aankoop by die kroeg – dit het gesorg vir klubinkomste. Die sitkamer van die klubhuis het ook gedien as kleedkamer. Stort- en badkamer-geriewe is eers in 1966 aangebring.
Die klubhuis is in 1978 vergroot en verbeteringe is aangebring.
Gedurende 1988 is water op al 9 putjies aangelê en Bent-gras setperke is in 1994 aangeplant. Al die setperke het in Desember 1998 tydens ‘n hittegolf doodgebrand. Alles is weer oorgesaai en van die setperke is deur die lede ook toe vergroot met skerper hellings en meer sandgate.
Andre Botes, klubkaptein van Riviersonderend-klub sê: “Die baan het sy eie “Amen Corner“ naamlik putjie 6 (syfer 4), putjie 7 (syfer 3) en putjie 8 (syfer 4). Hierdie drie putjies is voorwaar onbeskryflik mooi met die Sonderend-berge in die noorde, en goudgeel Canola-lande in die suide.“
Riviersonderend-gholfklub het deur die jare uitstaande gholfspelers opgelewer.
“Wat uitblinkers betref was Oom Dirk Neethling die man om dop te hou in die 60’s en vroeë 70’s. Hy was dan ook 7 keer die klubkampioen.“
“Daarna het Hennie Theron die klub-kampioenskappe oorheers en vanaf 1973-2008 dit ‘n ongelooflike 17 keer gewen. Sy seun Billy Theron is kort op sy hakke met 15 klubkampioenskappe agter sy naam.”
“Verskeie lede van die Riviersonderend-klub het ook hul Boland-kleure verwerf – insluitende Dirk Neethling, Hennie Theron, Billy Theron en Solms Beyers.“
“Vanaf 1998 het die klub ook begin om ‘n Ope-toernooi aan te bied wat verskeie kere deur die bekende gholfspeler De Wet Basson gewen is.“
Die klub het 3 ere-ede by name Dirk Neethling, Ramon Stipp en Koos Botes.
Botes het ook spesiaal melding gemaak van die klub se toegewyde baanopsigter Koos Eksteen. “Koos het op 12 Junie 1975 op die baan begin werk en hy is vandag, na 45 jaar, nog steeds by die gholfklub en help met die toesig oor die setperke.“
“Wat vrouegholf betref het ons nooit meer as 6 lede op ‘n slag nie. Vroeër jare se uitblinkers was: Joan Solms, Marlene Giliomee, Marieta Stipp en Wilna Griessel. Vandag is ons vrouelede baie aktief en dra ook by tot die sukses van ons klub.”
Riviersonderend se grootste gholfdae is die Oom Faan Dag wat al vanaf 1970 gespeel word, en die Kraanvoël Classic wat vanaf 2003 gespeel word. Beide hierdie dae is baie gewild en lok spelers van vanoor die Wes- en Suid Kaap.

FOTO'S: Die 6de putjie van Riviersonderend is deel van die baan se "Amen Corner."

Die 1ste putjie van Riviersonderend is uitdagend.

Boland Golf Union; Riviersonderend Golf Club