KLUB VAN DIE MAAND: ROBERTSON - Bobby Locke se verbintenis met klub

- 27 November 2020

Een van die bekendste en mees tradisieryke ope-toernooi in die Boland is die Bobby Locke Ope wat jaarliks op die Robertson-baan gespeel word.
Die ope se ontstaan was om een van Suid-Afrika se legendes in gholf, Bobby Locke, te vereer asook ter herinnering van Locke se vriendskap en noue verbintenis met die Robertson-gholfklub.
Die Bobby Locke Ope was die breinkind van Johnnie Loubser wat vir jarelank ‘n groot staatmaker by die Robertson-gholfklub was (as ligaspeler asook as iemand wat in sy vrye tyd die gholfklub in stand help hou het). Loubser (‘n nullo-speler) was ook klubkampioen van Robertson.
Sy seun Johnny vertel:
“Hy was vir baie jare in sy vrye tyd die baanopsigter by Robertson. In daardie jare was daar geen besproeiingstelsel op Robertson se baan nie - twee werkers moes die pype met die hand skuif. Die gehalte van Robertson se baan was sy trots.“
“My pa het op Worcester in die laat jare veertig teen Bobby Locke gespeel. Locke was so beindruk met my pa se spel dat hy hom genooi het om saam met hom te gaan op ‘n gholftoer in die Suid-Kaap. My pa moes dit egter van die hand wys, want hy was ‘n staatsamptenaar en kon nie maklik verlof kry nie.
“My pa en Locke het egter baie goeie vriende gebly en Bobby Locke het dikwels by ons aan huis gekom wanneer hy in die omgewing was.“
“Robertson se lede het my pa gevra om ‘n vertoonwedstryd op Robertson te reël vir Bobby Locke. Die toegangsgeld was 5 sjiellings (50c).“
“Van sy kant af het Bobby die toegangsgeld teruggeskenk aan die klub en ‘n beker is aangekoop (wat voortaan sou bekend staan as die Bobby Locke-trofee).
“ Bobby Locke was van opinie dat Robertson se baan die beste 9-putjie-baan in die Wes-Kaap was. Die skoonvelde was so goed dat Locke met gemak ‘n drywer vir sy tweede hou kon gebruik indien hy dit sou verkies .“
“Op 31 Mei elke jaar het spelers van die WP en die Boland om hierdie trofee meegeding op Robertson en dit het gedien as soort van proewe vir die kies van spanne vir die twee unies.“
Talle top-amateurs het Bobby Locke Ope gewen. Bertus Smit, het die toernooi 5 keer gewen en Gerald Williams drie jaar agtereenvolgens. Christiaan Basson en Grant Veenstra is van die jongers spelers wat ook die Bobby Locke Ope al gewen het.

FOTO: Op die foto, geneem op 29 Februarie 1964: Henry Green, Johnnie Loubser, Bobby Locke, Bart Saayman en Johnny O’Kennedy. In die agtergrond is die syfer 3 (3de, 12de) se setperk.

Boland Golf Union
,
Robertson
,
Bobby Locke Open