KLUB VAN DIE MAAND: ROBERTSON - gholf word al hier vir 120 jaar gespeel

- 27 November 2020

Inligting afkomstig vanaf die Robertson Museum dui aan dat die eerste gholfbaan op Robertson ongeveer in die jaar 1900 naby die huidige vliegveld gevestig is. Dit het in 1911 verskuif na waar die Kallie de Wet-sportkompleks tans is.
In 1958 is die nege putjie baan naby die Breërivier en die Silwerstrand karavaanpark ge-open. Ken Elkin (wat ook bane soos Stellenbosch en Durbanville ontwerp het) was die baan-argitek.
Dawie van Deventer wat vir twintig jaar op die komitee van die Robertson-gholfklub gedien het (twee termyne as kaptein) en sedert 1986 lid is van die klub, het gesê by die ou klub was daar groot betrokkenheid vanaf die boere-gemeenskap. “Daar was gholfdae soos Boere teen Dorpenaars asook Robertson-boere teen McGregor-boere.“
Soos by alle plattelandse gholfklubs is daar heelwat karakters onder die klublede.
Dawie vertel: “Les Saacks was so ’n karakter. Hy was by die klub in beheer van die voorgeë en in daardie tyd het die voorsitter van die voorgee-komitee baie seggenskap gehad oor spelers se voorgee. Wanneer hy met ’n klublid gespeel het, het hy summier van die spelers se voorgee van byvoorbeeld ‘n 10-voorgee na ’n 7-voorgee gesny. Sy verduideliking: “Ek kan sien jy het talent!“
“Les Saacks het baie saam met twee ander groot geeste van die klub gespeel, naamlik Klein Callie de Wet en Kallie Strydom. Soms het hulle by die 16de putjie besluit om op te hou speel. Dan het hulle die gholfjoggies gevra om hul sakke te neem tot by die klubhuis en het dan in die waterkanaal (langs die 16de) ingespring en daarin gedryf tot by die klubhuis.“
“Deur die jare was daar talle manne wat ’n groot rol gespeel het in die klubsake van Robertson – insluitende Nando Baard (kaptein en President), Dirk van Jaarsveld (klubkaptein asook Boland-president) en Dirk Bothma (kaptein en president).
“Dirk was ook ’n puik gholfspeler en het vir 10 jaar agtereenvolgens vir Boland gespeel. Hy was ook ’n geliefde Afrikaans-onderwyser by die plaaslike hoërskool.“
NUWE BAAN - 2008
Na ‘n baie lang proses, is in 2004 goedkeuring verkry om voort te gaan met die bouwerk van die “Silwerstrand Golf en River Estate”. Die nuwe 18 putjie-baan is in Mei 2008 in gebruik geneem.
Die nuwe baan, met sy kenmerkende sandkuile, is deur die bekende baan-argitek, Danie Obermeyer, ontwerp.
Tydens die bouwerk aan die nuwe 18 putjie-baan, is ‘n bruggie wat in die vroeë 1900’s gebou is op die area waar die 18de putjie geleë is, ontdek. Onder hierdie bruggie is vir baie jare die besproeingswater herlei na plase van die omgewing tot sover as Swellendam.
Die bruggie is mooi gerestoureer en vorm ’n pragtige prentjie as deel van die 18de putjie.
KENMERKE VAN DIE BAAN: ’n Kenmerk van die nuwe baan is die goed geplaasde sandkuile – veral skoonveld-sandkuile. Daar is altesame 51 sandkuile op die baan. Die uitleg is uitdagend en verg goeie baanbestuur deur die spelers. Die puik gehalte van die setperke (bent-gras) is verder ’n sterkpunt van die baan.
Talle groot toernooie (insluitende die Boland Ope, SA IPT vir Juniors en SA Mid-Amateur vir vroue) is die laaste jare op die Robertson-baan gespeel.

UITSTAANDE PUTJIE OP DIE BAAN: (“Feature hole‘‘): Die 7de putjie (syfer 3) is die baan se “feature hole.“ Dit word gespeel na ’n setperk omring deur water so spelers se afstand en akkuraatheid word behoorlik getoets.

UITSTAANDE MANS-SPELERS DEUR DIE JARE:
Die klub het talle uitblinker-spelers opgelewer deur die jare insluitende spelers soos: Dirk Bothma, Andre Ficks , Michael Frost, Johan Steyn, Joe Buirski, Jacquin Hess en Coenie Swanepoel.
Andre Ficks se vertoningslys by die Robertson-gholfklub is merkwaardig. Hy het as jong seun by die klub begin caddy en homself leer speel. Vandag kan hy 14 klubkampioenskaps-titels van Robertson agter sy naam skryf en is hy ’n staatmaker in die Bolandse Mid-Amateur-span.

VROUEGHOLF: Hoewel die aantal vroue wat gholf speel by Robertson-klub nie baie groot is nie, is daar tog lekker geesdrif onder die vroue-lede. Sandra van Deventer staan uit onder die vroue-spelers en het die klubkampioenskappe al 17 keer gewen. Sy het ook vir die Boland in gholf verteenwoordig. Audrey Purcell wat die klubkampioenskappe ’n hele paar keer gewen het, is ’n ander vrouelid wat ook haar Boland-kleure verwerf het.

Boland Golf Union
,
Robertson