Klub van die maand: Swellendam het 'n ware juweel van 'n baan

- 11 October 2019

GESKIEDENIS EN ONTSTAAN VAN KLUB
In die vorige helfte van die 20ste eeu, het die nasionale pad nog deur die dorp Swellendam geloop en die ou gholfbaan was geleë aan die suidooste kant van die dorp, suidoos van die stasie en spoorlyn. Hierdie grond wat deel gevorm het van die meentgrond wat ge-oormerk was vir uitbreiding van die kleurlingdorp, Railton.
Daar is toe besluit om die gholfbaan te verskuif, met inagneming van daardie tye se politieke uitkyk en oorweging, na waar dit geleë is vandag.
“Die wêreld was maar rof en talle uitdagings het gewag op Swelledam se gholfgeesdriftiges wat die spel wou beoefen,“ vertel Christo Groenewald.
Groenewald is die afgelope 44 jaar lid van die Swellendam-gholfklub en het in verskeie poste gedien by die klub. Hy was onder meer klubkaptein en was ook vir jare lank die klub se bestuurder en deel van sy verantwoordelikhede was om ook die baanopsiger te wees. Sy vrou Andeline was ook kaptein van die vroue-afdeling van die klub.
“Een van die eerste uitdagings was - wat om te maak met die ou vliegtuig-aanloopbaan wat op hierdie grond geleë was (waar die 3de putjie en skoonveld vandag staan). Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hierdie grond-aanloopbaan opgerig sodat vliegtuie wat die kus verken het (spesifiek tov moontlike vyandige duikboot-aktiwiteite) daar kon land en opstyg,“ het Groenwald vertel.
Danksy die goedhartige hulp van boere van die omgewing is bosse uitgekap, die grond gelyk gemaak en gras is geplant en so stuk-stuk het die gholfbaan tot stand gekom. Boere soos Johan Streicher, Hannes Schoonwinkel en Willie de Wet het met hul trekkers en werkers ‘n groot bydrae gelewer om die baan gevestig te kry.
BAAN SE UITLEG
Ken Elkin wat talle bekende gholfbane se uitleg gedoen het (insluitende Stellenbosch), was ook die man wat verantwoordelik was vir die uitleg van die Swellendam-baan. Vandag word Swellendam se baan onder van die beste 9-putjiebane in die land beskou. (die gholftydskrif Golf Digest het ‘n paar jaar gelede Swellendam erkenning gegee as een van die beter 9-putjie bane in die land).
Die baan is geleë aan die voet van die skilderagtige Langeberg-reeks en beskik oor uitdagende putjies in ‘n baie mooi omgewing.
Dit is ’n syfer 72-baan ( 5 726 m lank in totaal).
BESPROEING, BOME EN SETPERKE
Soos baie gholfbane dit ervaar, was water vanaf die begin ‘n groot probleem by die Swellendam-klub.
Daar was destyds ‘n klein pompie wat water versprei het na die setperke en later is basiese besproeingstoerusting aangeskaf – wat met die hand geskuif moes word.
Later jare toe Christo Crafford die klubkaptein was is permanente besproeing ingesit. Twee damme is ook gebou vir stoorwater.
Een van die plaaslike boere Albert van Rensburg was in hierdie opsig vir die klub van groot hulp deurdat sy trekker en werknemers baie werk ingesit het met die vestiging van pypleidings.
Vroeg in die jare neëntig het die klub al sy setperke oorgesaai met bent-gras. Vandag is die mooi bent-gras-setperke een van die uitstaande kenmerke van hierdie baan.
Sowat 15 jaar gelede het die klub met ‘n groot boomplant-projek begin. Die uitheemse bloekombome asook wattle-bome is uitgehaal en 800 geelhoutbome is geplant asook 100 wit stinkhout-bome en 60 koorsbome. Vandag is hierdie pragtige bome almal sterk gevestig.
Nuwe bowwe is ook opgerig en daar is heelwat tyd en aandag daaraan spandeer sodat die gehalte van die bowwe van hoogstaande standaard is.

SJOE MAAR DIE GHOLFSPELERS DRINK BAIE!
Edna Streicher het ‘n baie lang verbintenis met die Swellendam-gholfklub.
Haar pa en ma het gespeel op die ou baan en toe die nuwe baan gebou is, het haar man wyle Johan Streicher ‘n groot rol gespeel in die bou van die setperke.
Sy vertel: “Ken Elkin het die planne opgetrek vir die setperke en my man was die ene wat die planne gelees het. Hyself, asook Billy Hoek en Ernie Posthumus het toe die setperke gebou. Bandiete-arbeiders het gehelp met die bouwerk.“
“Om te sorg dat die molle nie die setperke omwoel nie, word fyn stukke glas rondom die setperke in die grond ingewerk. Terwyl die beplanning van die setperke aan die gang was, het al wat lid is drankbottels na die klub gebring en dit is teen die mure stukkend geslaan en naby die ou rondawel gestoor. Omtrent al die lede het gedurende daardie tyd na die drankwinkel gegaan en vir die leë bottels gevra.“
“Daar was later ‘n groot hoop van glasstukke van drankbottels naby die klubhuis en toe die plaaslike dominee een keer daar in die omgewing was, en hy dit sien, het hy kwaai gepraat oor die gholfklub-lede wat so baie drink!

KLUBHUIS

Die huidige klubhuis is opgerig in 1947.
Die oorspronklike gebou was maar klein en het net in die basiese behoeftes voldoen. Die klubhuis is deur die jare stuk-stuk vergroot. Een van die groot verbeteringe was die kleedkamer-geriewe vir beide mans en dames wat later in gebruik geneem is.
Die kombuis is ook later opgradeer en ‘n nuwe kroeg asook braaikamer en braai-fasiliteite is aangebring.
“Hierdie aanbou-verbeteringe is maar gedoen wanneer geld beskikbaar was. Later is ook ‘n lekker onderdakstoep opgerig waar die gholfspelers na ‘n potjie gholf lekker kan ontspan,“ vertel Groenewald.
“Met die nuwe Rookwet wat in die laat negentiger jare en vroeg 2000‘s in werking gekom het, moes daar inderhaas ‘n rokerskamer gebou word. Met min fondse, het ek en die klubkaptein van daardie tyd, Oubaas Cilliers, ‘n paar planne gemaak - so byvoorbeeld is al die deure en vensters by ‘n gemeenskaplike vriend van ons uit sy stoor op die plaas gaan haal sonder sy medewete en ingebou! Ons het hom daarna darem heerlik bederf met ‘n braai en ‘n paar drankies. Vandag is hierdie vertrek ‘n sprekende voorbeeld van baie goeie tye na die dag se spel,“ vertel die Swellendam-klubkaptein, Pieter Houterman.
KOMPETISIES EN LIGA
‘n Hoogtepunt op die gholfkalender van Swellendam-klub is die Classic-toernooi wat gewoonlik in Oktober aangebied word. Talle besoekers van omliggende dorpe kom daardie dag in die Classic speel.
Swellendam neem ook vir meer as 40 jaar deel aan die Daneelbeker-kompetisie. Dit is ‘n spankompetisie waaraan klubs soos Bredasdorp, Heidelberg, Riversdal, Albertinia en Stilbaai ook deelneem.
Swellendam speel ook al vir etlike dekades in die Bolandse ligas, naamlik die Krugerliga en Brodieliga. Swellendam was dan ook in 1998 die trotse houers van die Krugerliga.
SWELLENDAM OPE
Die Swellendam Ope het ‘n trotse plek op die ope-kalender van die Bolandse gholfunie en word jaarliks aangebied sedert 1988. Hierso volg die lys van wenners van die Swellendam Ope: 1988 J Newman, 1989 R Bougas, 1990 M Frost, 1991 A Streicher, 1992 H Booysen, 1993 J Botha, 1994 P Baatjies, 1995 N Avery, 1996 H Theron, 1997 P Baatjies, 1998 C de Bruyn, 1999 D Coetzee, 2000 H Amm, 2001 D van der Merwe, 2002 J Roos, 2003 J du Buisson, 2004 B Wessels, 2005 D van der Walt, 2006/7 P Baatjies, 2008 O Strydom, 2009 D Barnard, 2010 J Cloete, 2011 K Ochse, 2012 L Loubser, 2013 P Baatjies, 2014 J Jordaan, 2015 G Higgo, 2016 J Moos, 2017 WP Botha, 2018 L Boshoff, 2019 P Swanepoel.

SWELLENDAM KLUBKAMPIOENSKAPPE
Die Swellendam-klubkampioenskappe en die naam Paul Baatjies is eintlik sinonieme.
Baatjies (wat met ‘n Papwa-greep speel) het Swellendam se klubtitel reeds 19 keer gewen – tussen 1993 en 2017. Baatjies, wat ook met groot sukes vir Boland se provinsiale spanne gespeel het (hy was ook vanjaar lid van die Bolandse senior span) hou ook die baanrekord van 65.
Megan Streicher, wat tans die 3de beste junior in die land is asook 4de is in die ope-afdeling van SA Vroue se ranglys, is ook ‘n wenner van die Swellendam-klubkampioenskappe (sy is die kleindoger van Edna Streicher).
VROUE-AFDELING
“‘n Hele klompie jaar gelede was daar ‘n geweldige oplewing in gholf onder vroue op Swellendam en tydens Saterdae-kompetisies was daar baie kere meer vroue as mans wat aan die kompetisie deelgeneem het. Om 30 vroue te sien deelneem aan ‘n klubkompetisie was iets ongehoords vir ‘n plattelandse klub,“ vertel Groenewald.
Edna Streicher sê Swellendam-klub het vir baie jare met groot sukses en geesdrif deelgeneem aan die Bolandse vroueliga (Sandhills).
“Die vrouelede het ook vroeër altyd die spyseniering vir groot gholfdae gedoen.“
“Tans word daar nie juis baie gholf gespeel onder die vroue nie – die meeste is slegs sosiale lede.“
OORSESE SPELERS EN BESOEKERS
Omdat Swellendam halfpad geleë is tussen die gholfbane van Kaapstad-omgewing en die Suid-Kaap-bane kry Swellendam talle oorsese gholfgeesdriftiges wat oorslaap en speel op die Swellendam-gholfbaan.
“Die klub het in ‘n stadium 60 oorsese besoekers gehad wat vol-lede was en ons het ‘n paar jaar terug sowat R100 000 se inkomste ontvang vanaf besoekers-spelfooie – slegs vir die drie maande Desember, Januarie en Februarie,“ het Groenewald gesê.
UITDAGINGS ASOOK DOELWITTE VAN KLUB
Pieter Houterman, kaptein van die Swellendam-gholfklub, deel ’n paar gedagtes oor die uitdagings wat die klub in die gesig staar.
“ Dit was vir almal baie taai tye die afgelope klompie jare – ook vir die gholfklub.“
“Ons is dankbaar dat ons met goeie masjienerie en toerusting die baan se instandhouding op hoë vlak kan hou. Dit is die ywerige klublede wat die klub in stand hou. Ongelukkig het die klub die laaste paar jaar ‘n hele aantal lede verloor. Gholf op die platteland sukkel om te groei, maar ten spyte van al die bekommernisse, is ek baie opgewonde oor die potensiaal van Swellendam as dorp. Dit is die land se nommer 1 Munisipaliteit en baie gewild onder toeriste.“
“Daar is baie wat die gholfklub aanbied, insluitende:
• Vriendelike en opregte mense wat almal (besoekers inkluis) altyd laat tuis voel by die gholfklub;
• Baie bekostigbare ledefooie en spelfooie. Swellendam-gholfklub bied werklik baie goeie waarde vir geld;
• Die gholfklub se pragtige ligging is ‘n groot bate vir die klub en bied aan spelers werklik ‘n besondere ervaring;
• Die klub bied ook “Old School”-gholfdae aan wat gepaard gaan met goeie pryse en ‘n lekker ete;
• Die klub se Classic-toernooi (vanjaar word dit gehou op 19 Oktober) trek talle besoekers en speel ‘n groot rol in die klub se jaarlikse inkomste.
Die doelwitte van die Swellendam-gholfklub se komitee sluit in:
• Om aan lede ‘n klub te gee waar hulle, hul liefde vir die spel kan beoefen en geniet;
• Om vir die spelers en besoekers ter alle tye ‘n baan te bied wat in ‘n puik kondisie is;
• Om die klub bekostigbaar te hou sodat dit toegangklik kan wees vir gholfgeesdriftiges, sonder dat die gehalte van die baan inboet – in hierdie moeilike tye is dit nogals ‘n balanseer-toertjie om te handhaaf.“
“My volgende doel, en wat na aan my hart is, is om gholf meer toeganklik te maak vir ons jeug. Daar moet nog meer gedoen word om die sport nader na ons kinders te neem. Ek is bewus van programme wat huidiglik aan die gang is, maar ek kry die gevoel dat dit deesdae slegs een deel van die samelewing uitmaak. Daar is baie ruimte in die platteland vir goeie afrigting, wat die sport sal bevorder onder die jeug.“

Boland Golf Union; Boland-gholfunie; Swellendam Golf Club; Swellendam-gholfklub