KLUB VAN DIE MAAND: VREDENBURG - Uitdagende uitleg en trotse geskiedenis

- 29 January 2021

Vredenburg-gholfklub se geskiedenis is nou vervleg met dié van die Saldanha-gholfklub.
Die Saldanha-gholfklub is gestig in 1964 en die rolspelers in die vestiging van die baan was plaaslike gholfgeesdriftiges, vismaatskappye se fabrieksbestuurders, die Weermag en SAS Saldanha.
In 1986/87 het die komitee tydens ’n spesiale algemene jaarvergadering besluit om ’n nuwe baan te bou vir die Saldanha-gholfklub. Verskeie persele is gefynkam en uiteindelik is besluit op die perseel wat grens aan die Munisipaliteit se uitvalwerke, Eenzaamheid.
Bertus Valentyn was in beheer van die bou van die baan. Teen Oktober 1989 was 6 setperke voltooi en op 28 Oktober 1989 kon die klub sy eerste Saterdag-kompetisie aanbied.
Die klubhuis is in 1990 ge-open.

SAKEMENSE EN BOERE VAT HANDE MET GHOLFKLUB

Die bou van die Vredenburg-gholfbaan was ’n projek waaraan ’n groot aantal inwoners – veral boere en sakemense met geesdrif deelgeneem het.
Die Van Dyk’s van Vredenburg het ook ’n groot rol gespeel in die vestiging van die baan. Bokkie van Dyk (pa van Andre van Dyk wat tans vir SA se senior gholfspan speel) wat ’n groot steenmakery besit het asook sy broers Billy en Deon (albei bouers) was aktief betrokke by die baan se vestiging.
Ander sakemanne wat ’n groot rol in die beginjare gespeel het, was manne soos Archie Grimwood, Charles Hutchinson, Alan Carnegie, Tony Petter-Bovyer. Die plaaslike medikus en latere Parlementslid dr Wynand Malan het ook baie gedoen om die klub asook die toegansroete gevestig te kry.
Dan het die boere van die omgewing ook groot bydraes gelewer om die baan te vestig. Name hier sluit in Piet Schreuder asook Piet (Holvlei) Laubscher.
Twee van die grootste staatmakers in die geskiedenis van die Vredenburg-gholfklub is Sakkie Papier en sy vrou Liesbet. Sakkie was vir baie jare in diens van die klub met die taak om die baan in puik kondisie te hou. Hy het sy werk uitstekend gedoen en kon met trots by die klub aftree.
Sy vrou Liesbet was in beheer van die klub se halfweg-huis en het altyd groot lof ontvang van lede en besoekers.
Deur die jare was daar verskeie lede wat met groot toewyding hul take verrig het op die komitee – name wat hier genoem kan word is Neels Steyn, Steve Borstlap, Jimmy Cook asook die huidige president Pottie Potgieter.

BAAN SE UITLEG IS UITDAGEND

Vredenburg-baan se uitleg is baie uitdagend en spelers moet vanaf die bof die bal kan beweeg na beide links en regs om in die skoonveld te bly.
Die 5de putjie (syfer 3) asook die 6de putjie (syfer 4) is twee van Vredenburg-klub se uitstaande putjies. Die 6de putjie is ’n lang syfer 4 wat vanaf die bof ’n skerp elmboog het na regs. Die setperk is breed en sit hoog. Syfer is altyd ’n uitstekende telling op hierdie putjie.

ANDRE VAN DYK

Vredenburg-klub het deur die jare talle goeie spelers opgelewer, maar die een gholfer wie uitstaan is Andre van Dyk.
Vanaf 2000 tot 2010 het Van Dyk die klubkampioenskappe 10 jaar in ’n ry gewen.
Tydens ’n klubkampioenskappe het Van Dyk ook die baanrekord opgestel van 65. Hy het oor die eerste nege putjies 35 houe gespeel en daarna losgetrek met ’n 30 oor die tweede nege.
Tydens hierdie rekord-ronde het hy ’n uitsonderlike prestasie behaal toe hy op twee agtereenvolgende putjies (syfer 4 en syfer 5 onderskeidelik) ’n 2 aangeteken het!
Op die 11de (syfer 4) het hy sy tweede hou met ’n 7 yster tot in die putjie geslaan vir ’n arend en op die 12de (syfer 5) het hy met ’n 4 yster sy tweede tot in die putjie geslaan vir ’n albatros 2!
Van Dyk het ook provinsiale gholf gespeel vir die Boland, maar toe hy begin senior gholf speel, het hy werklik naam gemaak.
Hy het sy SA kleure as senior speler verwerf en is die afgelope paar jaar een van die top-senior spelers in Suid-Afrika.
Andre sê van sy lekkerste jare by die Vredenburg-klub was toe hy op die komitee gedien het met die spesifieke verantwoordelikheid om na die baan om te sien. “Ek en ander komitee-lede wat ook hierdie “job“ gehad het, het altyd gaan kers opsteek by Langebaan se setwerk-fundi Klasie van Huysteen. Ons het baie by hom geleer.“
“Vir baie jare was Vredenburg se setperke as van die heel beste in die Wes-Kaap beskou en daar is ook altyd verwys na die Vredenburg-baan as die Juweel van die Wes-Kaap.
’n Ander oud-lid van Vredenburg, Frans Bruwer, het ook met onderskeiding vir die Boland gholf gespeel.

KLUB SE JOHN DALY

Vredenburg-gholfklub het ook een van Suid-Afrika se top-lang slaners opgelewer.
Morne Zurnamer (ook bekend onder die lede as Big Z) kan die bal allamintig ver slaan en kan spog met ’n langste dryf van 411 meter (behaal by die Zwartkop-baan). Zurnamer was die naaswenner by die SA lang-slaan kompetisie en het ook in die VSA deelgeneem aan die Wêreld-kampioenskappe.

VREDENBURG-LID BEKLEE OOK SA AMATEUR-GHOLF SE HOOGSTE POSISIE

Dr. Neels Steyn, tandarts van Vredenburg, was ’n man wat diep spore getrap het by die Vredenburg-gholfklub, Boland-gholfunie asook die SA Gholf Assosiasie.
Benewens president van die Boland-gholfunie was dr. Steyn ook vir ’n termyn president van die SA Gholfassosiasie (vandag GolfRSA).
Hy is in 2014 oorlede tydens ’n motor-ongeluk.

Boland Golf Union; Vredenburg Golf Club; Vredenburg gholfklub