KLUB VAN DIE MAAND - VREDENDAL: EEN VAN PLATTELAND SE JUWELE

- 22 April 2022

Een van die juweel 9-putjiebane in die Boland, is Vredendal-gholfklub – al vir jare veral bekend vir hul puik setperke.
STIGTING VAN KLUB
Die Vredendal-gholfklub is op 22 September 1966 gestig . Op die stigtersvergadering was 58 lede teenwoordig, baie van wie later groot steunpilare van die klub sou word.
Die eerste voorsitter van die klub was die destydse landdros, mnr J.M van den Berg. Van meet af was dit duidelik dat die beste pad om te loop een van totale onafhanklikhied van die munisipaliteit is en met dit in gedagte is 40 morg grond ongeveer 5 kilometer buite die dorp gekoop teen wat daardie tyd ‘n billike prys van R2 000 was.
Grond aan die onderkant van die kanaal het in daardie tyd ongeveer R1 000 per morg gekos wat die aankoop daarvan onprakties gemaak het. Die aankoop van die grond het egter verseker dat die klub van dag een af totaal outonoom was met ‘n grondwet wat die lede alleen-eienaars sou maak.
Die probleem van die beskikbaarheid van water is oorkom deurdat van die boere water aan die klub beskikbaar gestel het. Vandag gebruik die klub water uit die besproeiingskema teen nywerheidstariewe. Aanvanklik was daar ook geen sprake van ‘n klubhuis nie en kleedkamer-geriewe is gedeel met die rolbalklub, wat ook op die perseel geleë was.
In 1984 is die huidige klubhuis opgerig. Heelwat veranderinge is oor die jare aangebring en vandag spog die klubhuis met uitstekende badkamers, ‘n volledige kombuis en kroeg en ‘n netjiese afdak met braaigeriewe
Na die droogte van 2017 en met die stygende koste en skaarste van water in gedagte, is die klub tans in onderhandelinge met die Munisipaliteit vir die verkryging van gryswater uit die nabygeleë watersuiweringsaanleg - ‘n stap wat groot verbeteringe moontlik sal maak.
LEDETAL
Tans is daar 96 lede by die Vredendal-klub.
Hierdie klein getal lede plaas uit die aard van die saak groot druk op die klub en was dit nog altyd vir die klub nodig om buite die “boks” te dink om die banksaldo te laat klop.
Gelukkig is die klub in die hande van bekwame lede en tans is die Vredendal-gholfklub finansieel kerngesond.
So byvoorbeeld is daar tydens die Covid-tyd met ‘n baan wat gesluit was, genoeg geld ingesamel om die baan in stand te hou en die werkers te betaal deurdat lede spontaan waardevolle items geskenk het wat opgeveil is.
Ongelukkig kon die klub oor die jare nooit werklik daarin slaag om groot getalle vroue as lede te lok nie en tans is daar slegs 3 vrouelede.

GHOLFBAAN SE EIENSKAPPE
Die baan is ‘n tipiese Karoo-agtige baan wat weens die aard van die terrein oor ‘n groot area uitgestrek lê.
Die 9-putjie-baan beskik oor 18 bowwe en baansyfer is 72.
Die baan se totale lengte is 5 752 meter met ‘n baan-gradering van 70.5 en ‘n “slope rating” van 132.
Aanvanklik was die baan ‘n grondbaan met olie-setperke, maar in 1988 het die lede self begin gras aanplant en is hulle vandag trots op ‘n baan wat heel met gras bedek is - met beslis bo-gemiddelde setperke vir ‘n plattelandse baan waar water ‘n absolute luukse is.
Wat die baan uitdagend maak, is die genadelose ru-veld (eintlik gebrek aan veld!!!) en die feit dat alles van die skoonveld af redelik ongelyk is.
Die gemiddelde afstand van die putjies is sowat 330 meter vir die syfer 4’s en 450 meter vir die syfer 5’s.
BAANFOOIE
Die fooie is baie billik en geaffilieerde besoekers speel teen R120 vir 9 putjies en R190 vir 18 putjies. Die klub self het nie gholfkarretjies beskikbaar nie, maar indien die klub vroeg genoeg gekontak word, kan dit gereël word deur die klub te skakel.
EERSTE KOLHOU EN BAANREKORD
Die eerste kolhou op die Vredendal-baan is deur dr. L. K. Bredell op 7 Maart 1970 behaal.
Die eerste keer wat ‘n speler op die Vredendal-baan baansyfer geklop het, was op 19 Oktober 1991 toe die professionele speler, Ian Palmer, ‘n telling 69 op sy telkaart ingevul het.
Hoewel nooit amptelik rekord gehou is van die baanrekord nie, kan daar met redelike sekerheid aanvaar word dat die 62 wat deur Gerlou Roux, gespeel is, nie maklik verbeter sal word nie.
KOMPETISIES
Die groot afstande tussen Vredendal en ander Bolandse klubs asook die hoë brandstof-prys het gemaak dat Vredendal moes onttrek uit die Bolandse liga-kompetisies.
Dit is eintlik baie jammer omdat die klub vroeër ‘n gedugte span ingeskryf het in die Brodieliga.
In 1995 het Vredendal die gesogte Brodie-beker verower. In hierdie wenspan was daar 4 skoliere – insluitende Gerlou Roux.
Die klub het al met baie vindingryke idees navore gekom om te sorg dat daar soveel as moontlike voete op die baan kom.
Elke Vrydag is daar ‘n Sundowner-kompetisie oor 9 putjies waar die wenner wegstap met ‘n lekker hoender (heel) of ‘n dosyn eiers, alles geborg deur die lede.
Een keer per maand word die baan in ‘n syfer-drie baan verander en word ‘n beterbal-kompetisie op die Vrydag gespeel.
Daar word ook elke Saterdag ‘n kompetisie gehou en is daar altyd een of ander vorm van pryse wat gewen kan word.
Die grootste fondsinsamelingsdae is die Motorhandelaarsdag en die baie gewilde Nexus Sakespanne-gholfdag.
Baie gewild ook is die Vredendal Cup wat op dieselfde beginsel as die Fedex-beker werk. Lede verdien punte volgens prestasie met elke georganiseerde dag, en aan die einde van die jaar speel die Top-20 uit om die beker en baie groot pryse staan op die spel.
SLYDER CUP IS GROOT TREKPLEISTER
Die gewildste naweek van die klub bly egter die Slyder Cup wat in 2009 begin is en elke jaar in November gehou word.
Twee spanne bestaande uit jong manne aan die een kant en die ou manne aan die ander kant, speel dan ‘n Vrydag en Saterdag beterbal, beurtspel en enkels teen mekaar.
Omdat die spanne min wissel, lei dit jaarliks tot intense kompetisie wat reeds die Woensdagaand tydens ‘n formele aansit-ete begin en eers die Saterdag baie laat eindig.
Die gewildheid van hierdie naweek word onderstreep deur die feit dat baie van die lede (wat vir een of ander rede vanaf Vredendal moet verhuis) hulle gholfklub-lidmaatskap behou, net om deel te bly van die uiters gewilde Slyder Cup-kompetisie.
UITBLINKERS
Sekerlik Vredendal se bekendste lid is Gerlou Roux. Roux het ‘n baie lang loopbaan as top-gholfspeler en het verskeie kere sy SA kleure verwerf en Suid-Afrika in verskeie internasionale kompetisies verteenwoordig. Later het hy ook as mid-amateur nasionale kleure verwerf en hy beklee tans die 3de plek op GolfRSA se merietelys vir mid-amateurs.
As kind het Hennie O’Kennedy (tans beroepspeler op die Sonskynreeks) en sy pa, Len (gewese beroepspeler) ook gereeld op Vredendal gespeel.
Sekerlik die bekendste wenner van die Vredendal-klubkampioenskappe is wyle Pammie van Zyl, oud-onderwyser, wat die klubkampioenskappe 18 keer gewen het.
KONTAKBESONDERHEDE
Enige persoon wat die klub wil kontak, kan dit doen deur die klubkaptein, Vlam Taljaard by 084 5131977 , of die klubbestuurder, Carina van Lill by 072 1186025 te skakel.

Boland Golf Union