The legacy of Isaac Mahoney as coach for the youngsters

- 11 February 2021

Isaac Mahoney of Paarl is a true legend as a golf coach for youngsters in the Boland. When the SA Golf Development Board was founded 20 years ago Isaac was asked to become one of the development coaches – the rest is history…..
Herewith an article about Isaac Mahoney that was published earlier this week in Die Burger Newspaper:

In die tegnologie-wêreld waarin ons lewe word jy gebombardeer met instruksie-videos - hetsy dit gaan oor kosmaak, fiksheidsprogramme of gholf. Kyk maar net na die duisende instruksie-videos oor gholf wat op YouTube beskikbaar is.
Gholfafrigters omarm die nuutste tegnologie en spelers word afgerig met video-kameras, rekenaar-data en allerlei tegnologiese hulpmiddels.
Maar in gholf is ’n belangrike vraag – verstaan jy as speler die gholfswaai?
Die 65-jarige Isaac Mahoney wat die afgelope twintig jaar vir honderde jong skoolkinders van die Paarl, Wellington en Worcester geleer het om gholf te speel het, het ’n verfrissende uitkyk oor hoe om die jongspan te leer om die gholfswaai te verstaan.
Mahoney het op Worcester groot geword en het as jong kind saam met sy maats gholf gespeel met tuisgemaakte bloudraad-stokke. “Vir balle het ons boom-tolletjies gebruik. Ons het klippies in die tolletjie se gaatjie vasgestamp en dan die tolletjie teen die sypaadjie geskuur totdat dit rond is. Ons het sommer so van erf tot erf gespeel en vandag sê ek en my ou gholfmaats ons het landgoed-gholf gespeel!“
“Toe my seun Mark op jong ouderdom begin gholf speel het, het ek in ons groot agterplaas ’n setperk opgerig en daar het ek hom leer speel.“
Isaac se agterplaas-afrigting het ’n uitstekende fondament gelê vir Mark en sy jonger broer Trevor en beide het later hul SA kleure in gholf verwerf.
’n Jaar na die stigting van die SA Gholfontwikkelingsraad (SAGDB) in 1999 is Mahoney genader om gholfafrigting te doen vir die SAGDB.
“Ek was van beroep ’n gekwalifiseerde ambagsman, maar my passie en liefde vir gholf was so groot dat ek die uitdaging aanvaar het. Die ander afrigters wou eintlik nie werk met die laerskool-kinders nie, maar ek het my hand opgesteek om hulle af te rig.“
“My filosofie van gholf-afrigting is: hou dinge so eenvoudig as moontlik en maak seker dat die kind jou verstaan.“
“Wanneer ’n ma regs van haar kind staan en roep, draai die kind om en kyk vir sy ma. Hierdie “Mamma roep vir jou“-draai-beweging is my eenvoudige raad vir kinders om die terugswaai te verstaan – nie allerhande tegniese dinge soos wat jou heupe en skouers moet doen nie. Omdat hierdie ’n gewone draai is, snap die kinders vinnig wat die terugswaai behels.“
“Beheer van jou stok tesame met gevoel is die kern van ’n gholfswaai. Daarom leer ek die kinders om met slegs een stok daardie beginsels vas te messel in hul spel.“
“Ek vra die kind om met die gewone wigyster ’n volle hou te slaan en argumentshalwe trek die bal 80 meter. Dan leer ek die kind om al die afstande tussen 20 meter en 80 meter met dieselfde wigyster baas te raak. So jy kry gevoel en afstandbeheer met ’n gholfstok in die hand.“
“ Deesdae het juniors vier wigysters in hul sak om houe van verskillende afstande te speel. Maar vier wigysters gaan jou nie regtig baie help indien jy nie die ware gevoel geleer het hoe om afstand te beheer met ’n gholfstok in jou hand nie.“
Nadat seun Trevor vir ’n jaar lank nie kon gholf speel nie, het hy onlangs die Ceres Ope gewen met ’n telling van 133 – 11 onder baansyfer. Dit wys duidelik dat die grondbeginsels wat Pa Isaac vir hom geleer het, vasgemessel is.

Boland Golf Union; Isaac Mahoney