PROFIEL: Alric Rooi weet harde werk sal sukses bring

PROFIEL: Alric Rooi
PROFIEL: Alric Rooi
- 30 January 2020

Die 16-jarige Alric Rooi het die afgelope tyd geskitter in junior gholf en onder meer die Citrusdal Junior-toernooi en Ceres Junior-toernooi gewen.
In hierdie onderhoud vertel hierdie leerling van HS De Villiers Graaff meer oor homself en wat hom motiveer in gholf.
VRAAG: Hoe het jy begin gholf speel en hoe oud was jy?
ROOI: Ek het vir my oudste broer Cedric begin caddy toe ek 7 jaar oud was.
VRAAG: Waar was jy vir die eerste keer lid van 'n klub?
ROOI: By die Riverside-gholfklub.
VRAAG: Wat het jy by Cedric geleer oor gholf?
ROOI: Cedric was die ene wat my alles oor gholf geleer het. Hy het my al die basiese dinge gewys – soos die regte greep om die stok vas te hou.
VRAAG: Op watter prestasie wat jy al in gholf behaal het is jy die trotste?
ROOI: Ek is nog steeds baie trots op die prestasie wat die Bolandse IPT Junior Span behaal het tydens die o.19 IPT-toernooi in Benoni. Ons het as ‘n span saamgewerk om daardie beker huis toe te bring. Ek is ook baie trots dat ek lid was van die span wat die SA Hoërskole-toernooi gewen het.
VRAAG: Wat is jou doelwit vir 2020 in gholf?
ROOI: My doelwit vir 2020 (wat ek al verlede jaar beplan het) is om elke dag harder te oefen, en om die beste te raak wat ek nog ooit kon wees. Ek is hard besig om daardie droom ‘n sukses te maak. My heel grootste droom is om deel te word van die Golf RSA squad.
VRAAG: Wat is die rede vir jou goeie vorm die afgelope tyd in junior toernooie?
ROOI: Die rede vir my goeie vorm is omdat ek gebruik maak van die geleenthede wat Cedric nooit gehad het nie en om suksesvol te probeer wees waar hy nie was nie. Cedric is eintlik die persoon wat agter my staan as dit kom by toernooie. My spanmaats Angelo Keffers en Keanan Keffers motiveer my ook sterk.
VRAAG: Vertel ons meer oor wat Shawn Adriaanse (Bolandse bestuurder van die SAGDB) vir jou beteken het as gholfspeler?
ROOI: Oom Shawn is soos ‘n pa vir my wanneer dit kom by gholf-reëlings en goed. Hy doen baie vir my - soos om my in te skryf vir toernooie en my vliegkaartjies te reël.
VRAAG: Met watter stokke speel jy tans?
ROOI: Ek het Cedric se ou M3 drywer en 3 hout. Dan het ek TaylorMade Tour Preferred ysters en ‘n Scotty Cameron setstok.
VRAAG: Wie is jou gunsteling-gholfspeler?
ROOI: My gunsteling gholfspeler was en sal altyd Tiger Woods wees, want hy is ook Cedric se gunsteling gholfspeler. Om terug te kom na ‘n rugbesering en die Meesters te wen nadat almal sleg gepraat het van hom, het Tiger gewys dat niks onmoontlik in die lewe is nie.
VRAAG: Watter afdeling van gholf kan nog verbeter in jou spel?
ROOI: Ek moet meer aan my lang ysters werk. En as ek dit regkry, glo ek sal ek eendag ‘n professionele gholfspeler kan word.
VRAAG: Wat doen jy om nog fikser te raak?
ROOI: Ons het elke oggend 5 uur opgestaan om te gaan draf. Ek beplan die jaar om elke oggend 5 uur op te staan en ook ‘n paar oefeninge te doen voor ek skool toe gaan.

Boland Golf Union Alric Rooi;