PROFIEL: Le Roux Ferreira wil net sy gholf geniet

- 10 March 2020

Le Roux Ferreira wat onlangs die Ceres-klubkampioenskappe met ‘n goeie telling van 139 gewen het, kan ‘n sterk aanspraakmaker wees om vanjaar die Bolandse IPT-span te haal.
Ferreira het as junior vir die Boland gespeel en daarna was hy ‘n beroepspeler, maar hy is nou terug in amateur-geledere.
Hierso antwoord hy ‘n paar vrae:
VRAAG: Vertel ons hoe jy ‘n beroepspeler geword het.
FERREIRA: Ek is in 2004 na die VSA toe om te gaan werk, en het toe vir David Frost deur oorlede oom Gys du Toit van Ceres ontmoet. David het my toe onder sy vlerk geneem en my gehelp om ‘n scholarship by Midland College te kry. Na my twee jaar by Midland College het ek aangesluit by Lamar Universiteit waar ek en Justin Harding spanmaats was. Na Lamar het ek ‘n beroepspeler geraak (in 2009), en ‘n paar toernooie op die pro mini-toer gespeel voordat ek terug SA toe gekom het om my Sonskynreeks-kaart te verwerf. Ek het daardie tyd my gholf tussen die Sonskynreeks en Mini Toere in die VSA gespeel.
VRAAG: Wat meen jy was jou beste prestasie as beroepspeler en waarop jy die trotste is?
FERREIRA: Soos Dawie van Der Walt altyd gespot het - hy het meer highlights in sy hare gehad as in sy gholf-loopbaan, ek voel dieselfde oor myne, maar daar is ‘n paar waarop ek trots is. Ek kan nie die toernooi se naam onthou nie, maar dit was op die NGA Tour wat daardie jare die grootste mini-reeks was in die VSA. Ek het met tellings van 65-61-67-72 in ’n playoff teen Jay Woodson verloor. Dan was my hole-in-one in die 2016 SA Ope ook ‘n groot hoogtepunt. Ek het ook ‘n paar goeie toernooie op die Sonskynreeks gehad.
VRAAG: Die afgelope jare word ’n World Golf Hickory Shafts Championship gehou (spelers moet almal speel met die ou hickory shafts uit die jare 1930’s en kampioene sluit in Sandy Lyle). Jy het hierdie toernooi gewen – vertel ons meer daarvan.
FERREIRA: Ek was in Florida vir ’n week af tussen toernooie en het toevallig by David Frost gebly. Hy het my toe genooi om saam met hom in daardie toernooi te speel wat ek aan die einde van die dag gewen het.
VRAAG: Jy is weer terug in die amateur-geledere. Wat is jou rede vir jou besluit?
FERREIRA: Dit was uit en uit ‘n finansiële besluit. Ek het einde 2016 my huidige baas by ‘n Nuwe Jaar-party raak geloop nadat ek hom laas in die vroeë 2000's gesien het en hy het die besluit om ’n rerige werk te kry net soveel makliker gemaak. Ek het toevallig in my laaste 2 toernooie, Di Data en Joburg Ope redelik goed gespeel voordat ek met my nuwe loopbaan begin het.
VRAAG: Het jy doelwitte as ‘n amateur soos byvoorbeeld om die Boland IPT span te maak?
FERREIRA: Op die oomblik speel ek gholf uit en uit om dit te geniet - as ek die spanne maak sal dit great wees.

Boland Golf Union
,
Le Roux Ferreira