Profiel: Nuwe President van vroue-gholf in die Boland wil spel laat groei

- 06 February 2020

Lizanne Heydenrych is die nuwe president van die Boland-gholfunie se vroue-afdeling. Sy volg vir Tarryn Borsutzky op as president.
In hierdie artikel artikel praat Lizanne onder meer oor haar uitdagings en doelwitte as president.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy begin het om gholf te speel?
HEYDENRYCH: Ek was op Universiteit en my man (destyds my kêrel) het gholf gespeel en ek moes uit nood (om meer tyd saam met hom deur te bring) probeer speel. Ek het wel ‘n sterk hokkie- en tennis-agtergrond gehad – so dit was darem nie te moeilik vir my om te leer gholf speel nie.
VRAAG: By watter klubs was jy lid gewees? Waar is jy tans lid?
HEYDENRYCH: Ons het vir 9 jaar in KwaZulu-Natal gebly en was lid by Selborne Country Club asook Umkomaas. Ook lid by Atlantic Beach gewees vir nege jaar.
Is tans lid by Pearl Valley Golf Estate.
VRAAG: Wat is die aspek van gholf wat jy die meeste geniet?
HEYDENRYCH: Die uitdaging om beter te speel asook die samesyn van vriende.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy betrokke geraak het by die vroue-afdeling van die BGU?
HEYDENRYCH: Ek ken vir Tarryn en na aanleiding van my kapteinskap by Pearl Valley het sy my gevra om deel te word van Boland-unie se bestuur.
VRAAG: Hoe lank is jy al op die komitee van Vroue Boland-gholf?
HEYDENRYCH: Ek is nou 2 jaar op die komitee.
VRAAG: Wat meen jy is jou vernaamste take as nuwe president?
HEYDENRYCH: Om gholf te laat groei onder die minder bevoorregte dele van ons gemeenskappe en ook om die juniors meer bystand en groei te gee. ‘n Ander doelwit is om gholf meer “bereikbaar“ te maak vir diegene wat belangstel.
VRAAG: Is daar ‘n spesifieke doelwit wat jy graag sal wil bereik as vroue-president?
HEYDENRYCH: Ek wil graag ‘n verskil in gholf onder die vroulike geslag in die Boland bewerkstellig. Dit sal insluit dat afrigting meer bekombaar moet wees vir die gholfspelers wat hulp nodig het.
VRAAG: In die Boland is daar baie jong en goeie meisie-spelers. Wat kan die unie nog doen om hulle te ondersteun?
HEYDENRYCH: Ek sal graag ‘n sportsielkundige wil gebruik in samewerking met afrigting. Ek voel ons het goeie spelers, maar daar kort daardie iets ekstra by ons spelers.
VRAAG: Die bekendstelling en ontwikkeling van gholf onder meisies by skole oor die hele Boland hou groot potensiaal in – is daar planne hoe meer skole betrek kan word?
HEYDENRYCH: Ons mikpunt is om onderwysers by skole te betrek by gholf en hulle dan opleiding gee sodat hulle die leerders kan help met die basiese aspekte van gholf. In opvolg daarvan sou ons graag wou sien dat professionele afrigters ook skole so elke tweede maand besoek.
VRAAG: Liga-gholf – is jy gelukkig met die huidige stand van sake of gaan julle veranderinge aanbring?
HEYDENRYCH: Ons het al klaar veranderinge aangebring – in die tweede semester van ons liga-jaar gaan die formaat wees “single matchplay.“
VRAAG: Het jy goeie samewerking met die mans-afdeling van die BGU?
HEYDENRYCH: Ek ken vir Abrie Swanepoel (direkteur van gholf by die BGU) van Pearl Valley se dae toe hy vir ons gewerk het en ek glo ons het ‘n baie goeie werksverhouding en sien uit om saam te werk.
VRAAG: Wat meen jy is jou sterkpunt as administrateur?
HEYDENRYCH: Ek kan goed organiseer en is ook ‘n goeie komunikeerder en met die ondersteuning van my mede- komiteelede sal dit hopelik maklik gaan.
VRAAG: Wat is jou gunsteling-bane in die Boland?
HEYDENRYCH: Pearl Valley is natuurlik my gunsteling, maar ek geniet ook Hermanus en Arabella.

Boland Golf Union
,
Lizanne Heydenrych