SENIOR LIGA: STELLENBOSCH LYK NA GEVAAR-SPAN

- 28 June 2021

SENIOR LIGA
STELLENBOSCH EN HERMANUS NOG ONOORWONNE
Die senior spanne van Stellenbosch en Hermanus is nog onoorwonne na twee rondes van die Bolandse senior liga.
Die Stellenbossers lyk na die span wat geklop moet word. Dis ’n baie ervare span en feitlik almal het IPT-ervaring – kaptein Marius Lourens, Peter van Coller, Dewald Botha en Johan Swart, terwyl een van die Boland se top-seniors Francois Hanekom binnekort ook vir die Stellenbossers beskikbaar is. Dan is die tandarts Deon Joubert ook lekker op stryk vir die Stellenbossers.
Stellenbosch het met Wellington (5-1) afgereken in die eerste ronde en toe dit opgevolg met ’n witwas-sege van 6-0 oor Langebaan in die tweede ronde.
Hermanus het self begin met ’n foutlose vertoning teen Kleinmond en het gewen met 6-0. In die tweede ronde het die Hermanus-span baie goed gedoen en De Zalze met 4-2 getroef.
Teen De Zalze was Stephan O‘Kennedy, Andrew Philip, Des Sauls en die ervare Michel Frost almal aan die wenkant.
De Zalze het in Francois le Roux en Tony Bailey twee van die heel sterkste spelers op nommer 1 en 2, maar die diepte ontbreek effe.
De Zalze het wel op sy tuisbaan in die 1ste ronde vir Paarl oortuigend met 5-1 geklop.
Die Paarl-span het in die tweede ronde hard gewerk om Kleinmond met 3.5 teen 2.5 te klop. Vir die Paarl-span was hul twee IPT-spelers Franz Lohbauer en George Bezuidenhout asook Hannes Louw aan die wenkant. Carel de Beer het sy wedstryd halveer en ‘n belangrike halwe punt vir die Paarl-span ingebring.
In hul tweede ronde wedstryd het Wellington en Devonvale halveer.
In hierdie wedstryd was Ferdie van der Merwe, Con Barnard en Cobus Groenewald aan die wenkant vir Wellington, terwyl Jorrie Jordaan, Riaan Olivier en Grant Stevensen seges vir Devonvale behaal het.
In die 1ste ronde het Devonvale vir Langebaan met 4.5 – 1.5 geklop. Die ervare Archie Steyn bring stewigheid vir Devonvale op nommer 1, terwyl Nick Smit ook heelwat ervaring bied.
Die volgende ronde vind op Devonvale plaas en die tuisspan pak vir Stellenbosch. ’n Ander taai stryd gaan wees tussen Hermanus en Paarl.

Boland Golf Union