Trevor Mahoney - sonder dat hy eintlik aan gholfstok raak vir meer as 'n jaar wen hy die Ceres Ope

- 04 February 2021

Die sport-uitdrukking wat lui: “You can’t keep a good man down“ is heel gepas om Trevor Mahoney se skitter-vertoning tydens die Ceres Ope te beskryf.
Nadat hy vir bykans 14 maande geen gholf gespeel het nie, het die 31-jarige Mahoney in sy eerste ope-toernooi ’n telling van 133 aangeteken om die Ceres Ope te wen!
Trevor was in 2007 lid van die Boland-span wat geskiedenis gemaak het om die Boland se eerste sege by die SAIPT te behaal.
In 2009 het hy as beroepspeler op die Sonskynreeks gespeel tot so aan die begin van 2012.
In 2013 het hy by Pearl Valley begin werk en as amateur ’n bietjie toernooi-gholf gespeel.
Maar die aantrekkingskrag om beroepsgholf te speel was baie sterk en in 2015 het hy weer sy Sonskynreeks-spelerskaart verwerf toe hy die wenner was van die Vusi Ngubeni-toerskool. Hy het egter nie die sukses behaal as beroepspeler wat hy graag wou nie en toe sy gesin groter raak (hy en sy vrou het nou 3 kinders) het hy besluit om ’n ander betrekking te soek.
Mahoney het ’n betrekking aanvaar by Ou Mutual se finansiële afdeling en werk in die Paarl. Omdat hy ook Saterdae werk, het gholf eers heeltemal op die agtergrond gebly.
Verlede jaar wou hy begin speel het in toernooie, maar toe kom die Covid-lockdown.
“My goeie vriend Cedric Rooi wat by Worcester-gholfklub is, het my aangemoedig om daar aan te sluit en danksy ’n vriendelike borg kon ek die lidmaatskapgelde betaal.”
“My plan was eers om nie in die Ceres Ope te speel nie, maar te begin met die Wellington Ope, want dit was die laaste toernooi, in 2014, wat ek as amateur gewen het.”
“Ek het ’n oefenronde op Wellington gaan speel en my pa Isaac wat al die jare my afrigter is, het saamgestap en hy het gesê dit sal goeie voorbereiding wees vir die Wellington-toernooi as ek eers in die Ceres Ope speel.”
“My pa hou maar altyd ’n ogie oor my gholfswaai, want hy ken dit deur-en-deur!”
“In die Ceres Ope was my setstok vuurwarm. Ek het slegs 24 sethoue nodig gehad vir my eerste ronde-telling van 65 en 28 tydens my ronde van 68.“
“Verder het ek maar net die bal in die spel gehou vanaf die bof en die skoonveld.“
“Ek het nie eintlik doelwitte vir 2021 in gholf gestel nie, maar meer daaraan gedink dat ek in 2022 ’n goeie jaar wil hê. Die Ceres Ope was dus ’n effense verrassing vir my, want dit het gekom sonder dat ek eintlik gholf gespeel het vir meer as ’n jaar!“

Boland Golf Union; Trevor Mahoney; Ceres Golf Open