Vier Bolanders onder top-10 as MVP by SA Mid-Am-toernooi

- 12 October 2019

Vier Bolanders was onder die top-10 MVP-spelers by die afgelope SAIPT Mid-Am-toernooi.
Beide Andre Ficks en Cedric Rooi was in die 7de plek. Ficks het al sy 6 enkels gewen en ook 2.5 punte verdien in die beurtspelle vir ‘n totaal van 8.5 uit ‘n moontlike 12.
Rooi was ook onoorwonne in die enkels met 4 seges en twee wedstryde wat halveer was. Hy het ook 3.5 punte verdien in die beurtspelle vir ‘n totaal van 8.5.
Robbie Oosthuizen en Anton Pieters was in die 9de plek met ‘n totaal van 8 punte. Pieters en Oosthuizen het in die beurtspelle 3 punte behaal en het albei 5 van hul 6 enkels gewen.
Ander Bolanders se punte: Clement de Bruin 6.5 (4 beurtspelle en 2.5 enkels); Anton Oosthuizen 6 (4 beurtspelle, 2 enkels), Philip Spies 6 (4 beurtspelle, 2 enkels), Jaco Pieters 5.5 (3 beurtspelle, 2.5 enkels).
Die Bolandse Mid-Am-span was die naaswenners by vanjaar se toernooi (B-afdeling).
Oostelike Provinsie het die toernooi gewen en was onoorwonne na 6 wedstryde met 12 ligapunte. Boland was tweede op 9 punte gevolg deur Noord-Wes 8 punte, Mpumalanga 5 punte, Noord-Kaap 4 punte, Limpopo 3 punte en Grens 1 punt.
Boland se Mid-Am-span het op die laaste dag van die SAIPT-toernooi ‘n klinkende sege van 8.5 – 3.5 oor Limpopo behaal.
Die Bolanders het in die enkels weer ‘n krag-vertoning gelewer toe hulle 5.5 uit moontlike 8 punte verdien het.
Op nommer 8 het Andre Ficks sy gebruiklike goeie spel gelewer en het met 2/1 gewen.
Op nommer 7 het Clement de Bruin baie soliede gholf gespeel en sy teenstander met 4/2 afgestof.
Anton Pieters se bestendige gholf deur die week was ‘n kenmerk van sy spel, en hy was in die enkels altyd in beheer en het met 4/3 gewen.
Cedric Rooi het die afgelope paar dae vuurwarm-gholf gespeel en op die laaste dag was dit weer so. Rooi was 2 onder baansyfer toe hy sy teenstander met 5/4 geklop het.
Kaptein Robbie Oosthuizen het die een syfer na die ander ingeryg en was 1 onder baansyfer toe hy met sy teenstander hande geskud het. Oosthuizen het 5/3 gewen.
Philip Spies het op die laaste putjie (syfer 5) ‘n voëltjie aangeteken om sy wedstryd te halveer.

Boland Golf Union; Boland-gholfunie