Waardevolle ervaring vir Boland-caddies

- 16 October 2019

“Dit was ‘n baie goeie leerskool vir die Bolandse caddie-span wat teen die WP-caddies gespeel het,” het Randall Newman, bestuurder van die Bolandse span gesê. “Die spelers het beslis baie geleer van die druk van toernooi-gholf.“
Die Bolanders en die WP-caddies was slaags op Worcester in ‘n putjiespel-stryd wat die WP met 7.5 -1.5 gewen het.
WP het die beurtspelle met 3 – 0 gewen en die enkels met 4.5 – 1.5.
Vir die Boland het Rodger Hermanus (Worcester) 1 op gewen in die enkels, terwyl Tasweld Koopman (Stellenbosch) sy wedstryd halveer het.
Die Boland Caddie-span het bestaan uit: Tasweld Koopman (Stellenbosch), Martin Dreyer (Hermanus), Nicolaas Koopman (Stellenbosch), Anthony Brown (Hermanus), Rodger Hermanus (Worcester) en Elton Titus (Worcester).
Die oom- en nefie-kombinasie van Tasweld en Nicolaas Koopman het hul debuut gemaak vir die Boland in hierdie toernooi.
Nicolaas (52) het as 5-jarige begin om gholf te speel en caddie al by die Stellenbosch-klub vir bykans 45 jaar. “Ek het altyd vir wyle Louis du Plessis gedra en baie geleer by hom. Hy het ‘n mooi “swing“ gehad.
Nicolaas se beste telling is 75 op Stellenbosch. Hy werk al jare lank vir die Universiteit van Stellenbosch in hul sekuriteitsafdeling.
Tasweld (35) het as jong seun begin om te caddie. Hy is ‘n “scratch”-voorgee en sy laagste telling is 68 op die Stellenbosch-baan.

Boland Golf Union; Boland-gholfunie