Wenner van De Zalze Ope het besondere gholf-CV

- 21 September 2020

Francois Hanekom (lid by Stellenbosch-klub) wat pas twee toernooie op ‘n ry in die Boland gewen het – die Ceres Senior Series en die afgelope naweek die De Zalze Ope het ‘n besondere Gholf-CV.
Na skool het Hanekom by Maties kom swot en daarna het hy op die Sonskynreeks as beroepspeler gespeel.
Hierso volg slegs enkele van die hoogtepunte wat hierdie gebore Suidwester (Nambiër) behaal het:
• SA Universiteite kampioen;
• 3de plek by die Wêreld Universiteite-toernooi op St Andrews;
• Wenner van ‘n Duitse PGA-toernooi;
• 8 kolhoue en 2 albatrosse op sy kerfstok.
• Laagste telling op Stellenbosch-baan – 63. Dit het bestaan uit ‘n 28 op die eerste 9 met 7 voëltjies in ‘n ry en ‘n 35 op die tweede nege;
• Ander lae tellings: 64 op Windhoek, 65 op Ruimsig, 66 op Omeya, 66 op Swakopmund.
Hanekom sê as beroepspeler het hy baie geleer by Retief Goosen. “Ons was beide professionele lede by Ruimsig in Johannesburg en daar het ons elke dag saam geoefen en gespeel. Ons het ook saam gereis na toernooie toe. Retief was baie professioneel in sy benadering tot sy loopbaan en dit het groot indruk en impak op myself as gholfspeler gemaak. “
Nadat hy ophou speel het as beroepspeler was hy betrokke by die bestuur van gholfklubs.
Hy was vir 6 jaar by Windhoek Gholfklub die direkteur van gholf en dan ook vir 3 jaar direkteur van gholf by die Omeya-buiteklub. By Omeya was hy deel van die ontwikkelingspan wat saam met Peter Matkovich gewerk het met die bou van die baan. “Dit was ‘n besonderse leer-ondervinding om te sien hoe ‘n stuk veld omskep word in ‘n kampioenskapsbaan.“

Boland Golf Union
,
Francois Hanekom